Local newsNewsSANParks

Hoe meer trappies, hoe meer visse

Vismigrasie is deel van die Nasionale Krugerwildtuin se gesonde vislewe. Maar hoe word dit vir die visse makliker gemaak om te migreer?

SKUKUZA-“Mens vergeet nie sommer die opwinding van ‘n skouspelagtige migrasie van barbers nie,” sê dr. Piet Kotze, water-ekoloog van Clean Stream Biological Services in Malelane. “Dis ‘n ongelooflike gesig om by ‘n brug te staan en te sien hoe hulle daaroor krioel en klim om by ‘n broeiplek te kom.”

Maar wanneer jy ‘n bielie aan die lyn het, is dit nie iets waaroor jy jou bekommer nie. Waar die vis vandaan kom en hoe hy tot hier gekom het, is nie iets waaraan jy dink wanneer iemand “Stywe lyne!” skree nie. Tog is vismigrasie ‘n belangrike aspek van gesonde vislewe en juis die rede hoekom jy die ou grote aan die lyn kan kry so af en toe.

Dr. Piet Kotze en sy seun Tivan
Dr. Piet Kotze en sy seun Tivan

Juis om te help om die sonderlinge natuurverskynsel beter te verstaan, is daar tydens ‘n demonstrasie by die Engelhardt-visweg in die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) inligting oor vismigrasie gedeel deur drs. Piet Kotze en Andrew Deacon tesame met Robin Petersen, wetenskaplike van die NKW se water-ekologie afdeling.

Dit was deel van die NKW se vieringe rondom internasionale  vismigrasiedag.

Visse het nodig om te kan migreer omdat hul broeiplek dikwels verskil  vanwaar hul tuiste is. Mensgemaakte damme en brûe maak dit moeilik.  Dit is juis hierdie uitdaging wat visse te bowe moet kom waarop Kotze en  sy span tydens die demonstrasie gekonsentreer het.

Die NKW het nog altyd die behoefte van visse in ag geneem. Op verskeie  plekke by damme en brûe in die wildtuin is daar vislere waar dit makliker vir visse is om stroom-op of stroom-af te beweeg en nie deur inperkings soos ‘n damwal agtergehou te word nie.

Stuwalle sluit gewoonlik sulke vislere in. Gewone keerwalle maak dié instinktiewe beweging om stroom-op te swem bykans onmoontlik. ‘n Visleer is soos “trappies” teen die wand van die stuwal vir visse. Soms stroom water te sterk oor die wal vir visse om daarteen te swem en moet daar op ‘n ande rmanier voorsiening gemaak word. ‘n Visleer kan dus ook ‘n afsonderlike konstruksie wees wat om die stuwal gebou word. Dit is platter as die wal en voorsien ‘n oppervlak waarteen visse hulle letterlik kan optrek om oor die wal te swem.

“Die NKW se bestuur besef egter die belangrikheid van die impak van versperrings op vismigrasie en daar word voldoende voorsiening gemaak vir migrerende wildtuinvisse,” sê dr. Kotze.

Vislere by die Engelhardtdam in die NKW.
Vislere by die Engelhardtdam in die NKW.

“Ons wou aan ons gehoor verduidelik en demonstreer wat is die impak van damwalle op die natuurlike beweging van visse,” het hy verduidelik.

Volgens Kotze word ‘n paar vissoorte ernstig geraak damme met versperrings soos keerwalle. Palings het nodig om in seewater te broei, maar maak hul tuiste in vars water. Die jaarlikse trek van palings van hul broeiplekke word so ingeperk dat daar bykans nie meer palings in vars water voorkom nie.

Menige hengelaar is lief om ‘n groot gele uit te trek. Vir dié geelvissoorte is vinnige vloeiende water belangrik wanneer hulle na broeiplekke wil swem.

Daar is egter ‘n hele paar uitdagings wanneer dit by gesonde vislewe in die wildtuin kom.

“Daar is groot kompetisie vir water in die opvangsgebied van riviere wat deur die NKW vloei. Die riviere kry nie genoeg water nie. Die NKW is een van vele gebruikers in ‘n lang reeks waterhonger verbruikers soos myne en landbou. Waterkwaliteit is ook ‘n probleem aangesien die wildtuin se riviere ook deur areas kronkel waar opvangsgebiede aan besoedeling blootgestel is,” verduidelik Kotze.

Hy het gedurende die vismigrasiedag die beweging van visse gemonitor en aan toeskouers gewys hoe visse die vislere gebruik.

“Bewusmaking van visse se gedrag- en swempatrone is belangrik. Ons maak almal ‘n bydrae tot die waterbronne om ons en moet meer weet sodat ons dit beter kan oppas,” sê Kotze.

Wanneer hy self ‘n tydjie het, soek hy een van sy rivierjuwele op. Hy staan rustig op die NKW-brug oor die Krokodilrivier by Malelane en kyk hoe tiervisse die water klief. “Tiervis is een van die Groot Vyf van riviere. Ek sal telkens terugkeer om ‘n grote so in die water te sien blink terwyl hy vinnig die ander visse aankeer.”

Dr. Andrew Deacon
Dr. Andrew Deacon

Back to top button