FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Hier staan hy weer, die Zoeloe voor ons deur

Dozi was maar die afgelope paar jaar stil. Hy het 'n sogenaamde sabbatsjaar gevat waar hy sy eie venue, Back to the Roots, op sy plaas naby Hartebeespoortdam oopgemaak het en ook dié ruskans gebruik het om te gim en te skilder.

MBOMBELA – Na drie jaar se afwesigheid by Innibos, het hy Saterdagaand sy comeback gemaak. En die mense het daarvan gehou. “Dit is lekker om terug te wees. Ek is nou uitgerus en weer lus vir die storie,” het hy tydens ‘n onderhoud met Laevelder gesê.

Hy het ‘n kontrak met die Coleske-broers gesluit waar hy in Oktober ‘n splinternwe album gaan vrystel.

“Hierdie album gaan goed wees waarvan ek like, soos rock en blues en ek gaan dit my eie maak. Ek is ook besig om aan ‘n heavy Engelse- en Zoeloe-album te skryf, maar dit sal eers volgende jaar op die rakke wees.” Enige Afrikaanse album? “Nee wag nou eers, dit kom later!”

Net soos Frank Sinatra, wil Dozi sing tot hy 80 jaar oud is. Hy wil by die see, of selfs in ‘n beautiful plekkie soos Mbombela aftree waar hy net kan skilder, maar lag en sê voordat hy die dag dit kan doen, hy eers moet optree. Die laaste skildery waaraan hy gewerk het, was Jesus wat aan die kruis hang. “Dit was seker een van die moeilikste prente wat ek nog gedoen het. Ek het so gesukkel om die uitdrukking op sy gesig reg te kry. Ek verkoop nie my skilderye nie. Die spesifieke een het ek vir ‘n Portugees gegee wat dit graag wou gehad het.”

Lees ook: Dozi kook by Stables

Hoogtepunte? “Uhm. Nee ek weet nie. Ek het in 2006 saam met die ou van U2, Bono, in Monaco opgetree. Ek gaan nuwe hoogepunte hê, maar gee my net kans. Ek het nog nooit klein droompies gehad nie. As ek iets droom, druk ek deur met alles wat ek doen. Die venue was een van my groot drome. Ek is ‘n voorstaander van drome, maar jy moet in jou eie drome gló.”

Dozi het vir 20 jaar musiek gemaak voordat hy famous geword het, en dit was nie met sy Afrikaanse treffer, “Ou Ryperd” nie, maar met sy eerste Christelike album, Mercy met nege Zoeloe-liedjies op.

Sy venue op sy plaas krioel Sondae van groot Afrikaanse kunstenaars soos Fokofpoliesiekar, Kurt Darren en Dewald Wasserfal, maar gee ook die geleentheid vir nuwe ontluikende talent.

“Ek is baie opgewonde oor Stiaan Reynierse. Sy koppie is nou reg. Hy is so nuut in die bedryf, maar dit is sy passion.”

Dozi was nog altyd een vir armbandjies en iets om sy nek. Sy gunstelingbandjie wat nou om sy arm is, het ‘n vriendin vir hom iewers in Afrika gekoop. Daar is ook twee bandjies wat ‘n klein dogtertjie vir hom gegee het, een van sy groot vriend Reynierse en selfs een wat soos daardie leerbandjies van Pandaro lyk.

 

Lees ook: Philip, Steve, Dozi en Amanda by Kaapsehoop

“Die skulpie-een uit Afrika is my favourite. Ek like nie so baie die leer ene nie. Dit is te modern. Die kristal om my nek het ek onlangs in die berge by Hartebeespoortdam opgetel en my vriend het die kettinkie van hemp gemaak, maar nie die dagga-soort nie.”

Hy is happy in sy eie land. Hy het die wêreld gesien en sal Suid-Afrika vir niks verruil nie. “Dankie vir Innibos wat my altyd toelaat om hier te kom sing.”

Foto’s: Eksteen Jacobs – Way To Go Photography

Back to top button