FeaturesInnibos NuusLifestyle

SA legendes vereer vir hulle bydrae tot kultuur

Die Innibos-toekenning vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kultuur word Saterdagaand tydens die Jacaranda FM-konsert op die Standard Bank-verhoog op die Innibos-feesterrein aan Richard en Lochner oorhandig.

Hulle is elkeen topkunstenaars in eie reg, maar saam is hulle ‘n formidabele kombinasie wat musiekliefhebbers veral in die negentigerjare gaande gehad het met Tussen Treine, die album waarmee hulle wegholsukses behaal het.

Dit is dus niks anders as gepas nie dat Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock vanjaar saam die Innibos-toekenning vir lewens- lange bydrae tot die Afrikaanse kultuur ontvang nie.

Hul eie vennootskap strek immers al oor 30 jaar. “Dis soos broers wat saam ‘n present kry. Ek is baie dankbaar. Dit maak ‘n mens nederig,” het Lochner, wat hom langer as 40 jaar al as akteur, musikant, skrywer en selfs kok onderskei, gesê.

Hy word veral onthou as die stem van Karel Kraai en Sarel Seemonster, wat kinders van 1976 tot 1991 in die kinderprogram Wielie Walie op TV vermaak het. Meer onlangs het hy groot sukses met sy Cordon Boer-kosboek en daaropvolgende reeks rooksoute en souse behaal.

Richard het die afgelope 35 jaar onder meer bekendheid verwerf as akteur in teater-, musiek- en televisieproduksies. Een van sy jongste TV-rolle was dié van lamaboer Troffel Fouché in Vlug na Egipte en Terug na Egipte.

Dit was die treffer “Ballade vir ‘n Enkeling”, temalied vir die gelyknamige TV-reeks, wat Richard in 1982 ‘n huishoudelike naam gemaak het. Hy het nooit ophou liedjies skryf en sing nie. Sy nuwe album, Yster en Vuur, word volgende week amptelik op RSG bekendgestel.

“Ek het nie gedink ek is al so oud dat ek sulke goed (toekennings) moet kry nie. Dit is ‘n baie groot voorreg en eer. Ek is baie in my skik daarmee,” het hy gesê.

Hy meen sy en Lochner se gesamentlike albums en konserte bly so gewild omdat hul stemme goed saamwerk en hul liedjies altyd vars en oorspronklik is. Lochner beaam dat die eerlikheid van hul liedjies by mense aanklank vind.

“Ons kom albei half van die Weskus af. Ons is albei lief vir klippe en maak hulle bymekaar. En ons hou albei van ‘n goeie wyntjie op sy tyd,” het hy oor hul jarelange vriendskap gesê.

Die Innibos-toekenning vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kultuur word Saterdagaand tydens die Jacaranda FM-konsert op die Standard Bank-verhoog op die Innibos-feesterrein aan Richard en Lochner oorhandig.

Back to top button