FeaturesInnibos NuusLifestyle

Jongmense moet op hul taalregte staan

As Suid-Afrikaners die toekoms in ‘n kristalbal kon sien, sou dit seker nie nodig gewees het om saam met dr. Theuns Eloff te vra: “Wat nou, Suid-Afrika?” nie. Selfs nie Eloff se kennis en insig van staatsinstellings en politieke prosesse help hom om klinkklare antwoorde op die brandende vrae in Suid-Afrika vandag te antwoord nie. …

As Suid-Afrikaners die toekoms in ‘n kristalbal kon sien, sou dit seker nie nodig gewees het om saam met dr. Theuns Eloff te vra: “Wat nou, Suid-Afrika?” nie.

Selfs nie Eloff se kennis en insig van staatsinstellings en politieke prosesse help hom om klinkklare antwoorde op die brandende vrae in Suid-Afrika vandag te antwoord nie.

Tog bly hy glo in die land se toekoms. Eloff, wat tot 2014 visekanselier van die Noordwes-Universiteit was en tans raadsvoorsitter van Astral Foods, Dagbreek Trust en die FW de Klerk Stigting is, het Woensdag by die ATKV Boeke Oppistoep oor sy boek Wat nou, Suid-Afrika? gesels.

Suid-Afrika se grondwet, ‘n goeie nasionale ontwikkelingsplan en ‘n veerkragtige ekonomie tel volgens Eloff onder die land se belangrikste bates. Tog is daar al meer kritiek op die grondwet uit regeringsgeledere en partye links van die regering. Hy meen die land se jongmense tussen 25 en 40 moet oortuig word om opnuut te onderhandel en ‘n grondwetlike skikking bereik.

“As die gehoor vandag een kant swart en die ander kant wit was, sal ek my kar of pensioen wed dat hulle (toekomswense) dieselfde sal wees. Daar is nie ‘n verskil in wat Suid-Afrikaners vir hul kinders wil hê nie.”

Die grootste faktore wat die land en sy bestuur gepootjie het, is volgens Eloff die wantoepassing van kaderontplooiing, regstellende aksie en transformasie.

Dit is ook bevestig deur ‘n werksdokument met die oog op ‘n meer doeltreffende staatsdiens. Pres. Jacob Zuma sal danksy sy goed gevestigde patronaatskap-netwerk waarskynlik sy termyn uitdien, tensy dit werklik so sleg gaan met die ANC in die komende munisipale verkiesing dat dit as verskoning gebruik kan word om hom te verwyder, het Eloff gesê. Dié besluit lê ongelukkig in die hande van slegs ‘n klein groepie top-ANC-lede.

Wat Afrikaanse mense wel kan doen om ‘n beter toekoms vir hul kinders te verseker, is om op hul taalregte te staan en vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en minstens een universiteit te veg. Die grondwet maak voorsiening daarvoor. “Maar ons mag nie selfsugtig wees nie.

Die toets is of ons bereid is om swart en bruin kinders toe te laat om deel te wees van ons Afrikaanse skole. En ons kan ander (stalige) skole help,” het Theuns gesê. Want die sleutel tot ‘n gesofistikeerde kieserkorps wat nie goedsmoeds sal stem vir ‘n party wat nie hul belange op die hart dra nie, lê in ‘n doeltreffende onderwysstelsel.”Ons is naby die afgrond, maar ek glo nie ons gaan oor hom gaan nie.

“Die mense van Suid-Afrika, wit en swart, wil dit nie hê nie en sal dit nie toelaat nie.”

Back to top button