FeaturesInnibos NuusLifestyle

Moenie dié shows by Innibos misloop nie

Met duisende mense wat die Laeveld binnestroom kan feesgangers blitsige kaartjie(uit)verkope te wagte wees. Muskiet, die amptelike feeskoerant, het vanoggend gaan uitvind wat jy nié moet misloop nie.

Met duisende mense wat die Laeveld binnestroom kan feesgangers blitsige kaartjie(uit)verkope te wagte wees.

Muskiet, die amptelike feeskoerant, het vanoggend gaan uitvind wat jy nié moet misloop nie.

• Blou-Blou
Sonder doekies omdraai, herleef Erik Holm die gebeure van Augustus 2007 toe sy lewe handomkeer verander het na sy verlammende ongeluk.
In dié solovertoning skets hy op eerlike en onthutsende wyse die ongelooflike emosionele en intellektuele ervarings wat sy reis meemaak en wyer strek as die fisieke.

• Groet die grotheld
Gert Struwig is rêrig êrig ‘n grotman. Hy is beslis nie ‘n metroman nie. Naas die Bybel is rugby sy grootste aanwyser. Sy lewe draai om rugby. Sy helde is rugbyspelers. Sy bestaan is rugby. Maar dan gebeur die lewe en Gert se bestaan word dramaties verander met die vraag: Is ek ‘n grotheld? Hierdie produksie verseker skaterlagtye en bied ‘n komiese kykie op Suid-Afrikaanse rugby.

• Klassieke keur
Dié is beslis klanke vir die klassieke fynproewer. Met die Charl du Plessis Trio, Odeion Strykkwartet, Chris Coetzer en Sibongile Mngoma kan jy nie net musikale vuurwerke verwag nie, maar ook stemtoertjies en van die mooiste musiek ooit. ’n Produksie van uitstaande gehalte wat beslis ’n blywende indruk sal laat.

• Schalk Bezuidenhout: Lewendig
Met slegs een vertoning kan jy beslis nie bekostig om dié meester komediant mis te loop nie. Schalk steek graag die draak met alles van verhoudigns tot skolerugby, Afrikaanse radio en ‘n gewilde sepie en beloof om jou te laat skater.

• Twee Susters
In Twee susters word ‘n paar klassieke dramas behoorlik deurmekaar geklits met ‘n stewige skeut galgehumor. Chris Vorster en Hennie Jacobs is die twee susters en het nie ‘n goeie woord of ‘n knippie liefde vir mekaar nie. Kleinsus is haar lewe lank afgeknou en vier nou haar verjaarsdag met moordlustigste planne en poëtiese vryheid! Die vonke, voete, vuiste, morfien en arseen spat behoorlik soos die susters mekaar in die rug probeer steek! Hierdie is mos nou Afrikaans in haar nuwe rok … vreesloos, uitdagend en lekker ondeund!

• Kurt en Karen
Kurt Darren en Karen Zoid klim saam op die verhoog as ou vriende en bewys dat pop en rock klanke goed kan vermeng om ‘n unieke musiekvertoning te vorm. Karen spot met tye met die ‘diepte’ in Kurt se lirieke, maar as die twee hulle stemme saamgooi hou dit die gehoor behoorlik op hul tone.

• Chris Chameleon
In hierdie opwindende nuwe produksie neem Chris Chameleon gehore op ’n reis deur Africana. Die giere, gewoontes, heilige koeie, artikels en tradisies van Afrikaners word tong in die kies gedissekteer om te kyk wat klop in die hart, raas in die kop en kielie in die maag van Die Volk. Die produksie beloof om gehore ’n goeie dosis van lekker lag, lekker luister, ‘n bietjie nadink en ’n hart se punt wat sekerlik nader aan hierdie besondere Afrika stam sal trek.

Back to top button