FeaturesInnibos NuusLifestyle

Heidi: “‘n Storie van goedheid en van hoop”

As jy met toe oë na Heine se Heidi-stem luister, sou jy sweer dit is niemand anders as die strokiesprentkarakter op die verhoog nie.

Meer as ‘n eeu nadat die nimlike bergkind Heidi die eerste keer in die Switserse Alpe baljaar het, het sy en die ander karakters uit Johanna Spyri se pen, oud en jonk, gister al singende in Afrikaans in Mbombela bekoor. Nie eens ‘n kortstondige kragonderbreking naby die einde kon teatergangers se geesdrif vir Heidi, die musiekblyspel, demp nie.
Selfs nie die spontane reaksie op Heidi se wel en wee van die kinders in die gehoor het gepla nie, maar mens eerder met ‘n warm gevoel in die hart gelaat.

Die geliefde storie, wat veral bekend geraak het deur die strokieprentweergawe wat in die tagtigerjare op TV gewys het, het opnuut lewe gekry deur die prettige vertolking van veral Karli Heine as Heidi en Tobie Cronjé as Juffrou Rottenmeier.

As jy met toe oë na Heine se Heidi-stem luister, sou jy sweer dit is niemand anders as die strokiesprentkarakter op die verhoog nie.

Wie kan nou ‘n “kwaai” Juffrou Rottenmeier ernstig opneem as sy jou al laat lag nog voor sy eens haar mond oopgemaak het?

Selfs al dryf Heidi haar tot op “die rand van ‘n ineenstorting”, is niemand juis bekommerd as sy vertel dat ongehoorsame kinders in die kelder toegesluit word waar “die rotte aan jou tone knaag” nie.

Maar dit is in die berge by haar oupa (Albert Maritz) wat haar al trippelend en huppelend saam met die bokwagter Peter (Dean Balie) tot haar reg kom. ‘n Mens het lus om saam met haar “hallo son, hallo wolke, hallo berge!” te roep.
Die Afrikaanse lirieke deur Esther von Waltsleben en Francois Toerien, wat ook die teks behartig het, met musiek deur Mynie Grové, verleen ‘n wonderlike Suid-Afrikaanse geur aan die Europese storie.

“Kan jy, gaan jy vir ons sê wat anderkant die blouberg lê?” vra Heidi op ‘n stadium. Meneer Seesemann (Dawid Minnaar), die pa van haar Frankfurtse vriendin Klara, het as verteller reeds uit die staanspoor aangedui dat hierdie ‘n goedvoel-produksie – “‘n storie van goedheid en van hoop” – is. So was dit ook, met die karakters wat in die slottonele verklaar: “Die storie hou aan en aan waar jy ook al gaan. Heidi se vreugde loop vir ewig met jou saam.”
Heidi is nog vanaand om 19:00, môre om 14:00, Vrydag om 09:00 en Saterdag om 17:00 in die Nelspruit Hoërskool Ouditorium te sien. Kaartjies kos R122/R82.

Klik hier vir meer foto’s

Back to top button