FeaturesInnibos NuusLifestyle

Die rooi tapyt wag om drome waar te maak

"Ons glo dat dié fees, die beste een nóg gaan wees."

Die rooi tapyt is uitgerol en die feestafel is gedek! Almal – van die kunstenaars tot die bestuur tot die bystanddienste en logistieke spanne, werk al maande om hierdie fees die ervaring van ‘n leeftyd te maak.

Innibos word vanjaar 13 jaar oud, en soos die direksie en bestuur sê, beur die fees voort, soos dit ‘n tiener betaam, met blink oë na nóg ‘n suksesvolle fees. “Kom #droomgroot by Innibos 2016!” sê die fees se media- en bemarkings-bestuurder, Sandra Jacobs. “Die wêreld sou immers ‘n bleek en vervelige plek gewees het sonder drome.”

Hulle droom is vanjaar vir die tweede keer bewaarheid toe hulle die Fiësta-toekenning as gewildste fees verower het. Vanselfsprekend skep dit ‘n reuse-uitdaging om aan die verwagtinge van feesgangers regoor Suid-Afrika te voldoen.

Maar, met 300 van die land se topkunstenaars op vyf kuierverhoë, topklas-musiekkonserte elke aand, ‘n gratis filmfees by die kykNET Bosbioskoop, gratis teateraanbiedings by die Mhoba Rum Boma-kuierteater en ‘n stimulerende boekprogram by BoekeOppiStoep, om maar net ‘n handjievol te noem, beloof dit om weereens ‘n fees sonder gelyke te wees. Vir ouers is daar oudergewoonte voorsiening gemaak vir die kleinspan met Apies Innibos.

Dit is die ideale plek waar hulle hulself gate uit kan geniet, terwyl oppassers daagliks én saans ‘n ogie sal gooi. Innibos is sedert sy geboorte in 2003 reeds ‘n fees vir eerstes, en hoe dan anders as om dié reputasie vol te hou?

Die RockRumoer-kompetisie waaraan jong bands uit alle hoeke van die land sal meeding, sal vir die eerste keer aangebied word. “Jy kan nie bekostig om die fees mis te loop nie,” sê die feesbestuurder, Andy Lubbe. “Ons glo dat dié fees, die beste een nóg gaan wees.”

Wat is ‘n fees sonder heerlike snuisterye en kaggel-akkies? Met meer as 300 kunsmarkstalletjies in die Bosmôl en feeskos na elkeen se hartelus, is daardie boksie beslis getiek. Nie lus vir die stowwerigheid op die feesterrein nie? Dan behoort die verskeidenheid van uitsoek-toneelproduskies en klassieke musiekuitvoerings deel van jou beplannning te wees.

Moet ook nie die Sappi Boeke-crawl en die kykNET kos-crawl misloop nie. “Ons droom dat elke feesganger daardeur verryk sal word,” sê Jacobs.

Geniet elke greintjie Laeveldse gasvryheid! Vir die volle program, kliek hier

Back to top button