FeaturesInnibos NuusLifestyle

Resensie: Groet die Grotheld

Geen voortsetting van "Groet die Grotman" nie. Moenie jouself mislei nie!

Paul Boekkooi

 

Groet die Grotheld, deur Frans Swart
Met Cobus Venter
Regie: Frans Swart

Enige suksesresep word immers gereeld deur meestersjefs na die oond, stoof of braairooster toe teruggeneem om verder daarmee te eksperimenteer en te wonder of te hoop of daar met nuwe bestanddele dalk nie iets nuuts en iets onverwags aptytlik na vore sal kom nie.
Die Amerikaner Rob Reiner se Defending the Caveman was vir ruim 20 jaar ‘n ikoongedrewe eenmanstuk – veral ook in Suid-Afrika waar dit bywoningsrekords opgestel het. Selfs ook toe Koos Kombuis dit later as Groet die grotman in Afrikaans vertaal het en Hannes Muller oor lang tye sy jagtersinstink so fyn ingestel het dat albei geslagte hulself kon verkneukel aan sy wydlopende spitsvondighede.

Toe kom Emma Peirson met haar Defending the Cavewoman met Vanessa Frost wat die konsep bedink het vrou-alleen op die verhoog. Dit het ruim 13 jaar spelenderwys maalvleis van chauvinistiese mans gemaak. Ook dít was bykans ewe suksesvol en het bewys dat vroue kan kóók.
Frans Swart en sy produksiemaatskappy, Lefra, het sopas die grotmankonsep verder uitgebrei met ‘n eietydse stuk wat van die ouer idees behou, maar dit toepas op die 21ste eeuse samelewing met sy tegno-hoogkonjunktuur. Daarbinne bestaan primitiewe menslikheid nie meer nie, maar is vervang deur ‘n onpersoonlike lewenstyl waar elektronika bepalend is vir die mens se gemoedstoestand..
Weer is daar net een man op die verhoog: Gert Struwig, ‘n in homself gekeerde grotman, maar ‘n begeesterde rugbyman, Blou Bul aanhanger, ‘n godvresende beroepsman, maar nie bepaald voluit betrokke by sy gesin nie, alhoewel hy trots is op Heinrich, sy elfjarige laaitie.

Cobus Venter (Medium)
Die stuk open met vier TV-stelle op die verhoog, met kort insetsels rondom jong seuns van omtrent Heinrich se ouderdom wat spog met hulle pa’s en wat hulle nie alles kan doen nie en waarom die een pa die ander een sommer tjoeftjaf kan troef en ore aansit.
Cobus Venter, nou ook te sien in Daa’ gaat die Bruid, het ‘n kragtoer op hande met sy uitbeelding van Gert. Frans Swart se skryfwerk is knap in dié sin dat die kyker nog voordat die eksposisie behoorlik afgehandel is, reeds weet hoe hierdie Struwig-gesin se dinamiek (of gebrek daaraan) funksioneer.
Om met Gert te identifiseer is ook geen harde werk nie, want blindelingse spanlojaliteit, of dit nou rugby of enige ander sport is, sal ons, soos die armes, altyd by ons hê – maak nie saak waar op aarde jy jou bevind nie.
Gehoorreaksie vroeg tydens Grotheld se speelvak het Swart genoop om in vyf vrae te verduidelik waarom die nuwe stuk geen voortsetting is van Groet die Grotman nie. Mense wat dit verwag, het hulself mislei. Die komiese is dunner gesaai by Grotheld. Daar is selfs ‘n ernstige wending in die verhaal wat sommige mense ongemaklik kan stem. Dit het hierdie kyker tydens ‘n opvoering daarvan in die Atterbury Teater in Pretoria geensins gepla nie.
Grotheld mag dan nie die perfekte, ewewigtige teks wees nie, maar dit rig homself op die pa-/seunverhouding onder moeiliker omstandighede en laat ‘n ietwat ongemaklike gevoel tussen piëteit en sentimentaliteit resoneer. Venter weet gelukkig hoe om die ewewig kranig te behou en jy bly hom simpatiekgesind.

Back to top button