FeaturesInnibos NuusLifestyle

Dana Snyman se Laeveld-kuier sal ‘n tuiskoms wees

Die bekende joernalis het op sy dag by Laevelder gewerk.

MBOMBELA – Dana Snyman sal tydens vanjaar se Innibos terugkeer na die stad waar sy loopbaan as joernalis afgeskop het. Min mense weet dat Dana na sy studies aan die destydse Pretoria Technikon (nou die Tshwane Universiteit vir Tegnologie) vir ‘n paar maande ‘n Laevelder-joernalis was.

Dana het die ou Nelspruit vlugtig sy tuisdorp genoem en in die jeugtuiste gebly. Die Ehlanzeni-rampbestuursentrum staan vandag waar die jeugsentrum eenmaal was. Hy sal tussen 29 Junie en 2 Julie Mbombela besoek. Hond, ‘n eenmanvertoning wat hy vir Frank Opperman geskryf het, debuteer by vanjaar se fees. Dana se eie hond, Blackie, is sy hart se punt en Facebook-blad is propvol foto’s van die swart hond wat hy opgetel en aangeneem het.

Toe Laevelder op soek was na ‘n foto van hom, het hy voorgestel dat ons sommer een van Blackie gebruik. Die reuntjie is, volgens sy Facebook-profiel, lekker windgat en pronk graag vir die kamera. Dana sal op 2 Julie met Annemarie van der Walt oor sy boek, In die bloukamp, praat. Laevelder het met hom gesels oor sy reis terug Laeveld toe en wat vir hom voorlê.

Dana se hond, Blackie.
Dana se hond, Blackie.

Dana onthou sy dae van “stories en stories” skryf in Laevelder se redaksiekantoor. “Ons het op tikmasjiene gewerk en Neels Bezuidenhout was die redakteur. Hy het met ‘n bruin Volksie rondgery,” het hy onthou. Hy was ‘n sportverslaggewer by die koerant en onthou veral die atletiek- en rugbybyeenkomste wat hy bygewoon het.

Laevelder se drukpers het hom destyds woes beïndruk. Hy het plaaslike joernaliste Irma Green, tans nasionale groepredakteur van Caxtion-gemeenskapskoerante, en Buks Viljoen, ‘n senior verslaggewer by Beeld, goed geken. “Buks het saam met my by Laevelder gewerk en Irma en ek het saam gestudeer,” het hy gesê. Voormalige Laevelder en bekende joernalis Wilhelm de Swardt het ook saam met hom by Laevelder gewerk.

Dit voel vandag nog vir Dana soos ‘n tuiskoms wanneer hy Laeveld toe ry. “Alhoewel ek baie lekker in die Kaap bly, is die gevoel wat ek kry wanneer ek Schoemanskloof tref, darem maar ‘n lekker gevoel. Die reuk van sitrus en pynappel en die Afrika-gevoel wat so eie is aan daardie omgewing… dis iets wat ‘n mens nêrens anders kry nie,” het hy gesê en bygevoeg: “Selfs Ngodwana se reuk dra by tot die gevoel. Dit stink, maar dis ‘n lekker stink, want jy ry die Laeveld binne.”

• Dana Snyman en Keina Swart sal op 2 Julie om 10:00 by Stoep oor hul boeke gesels. Annemarie van der Walt sal die gesprek lei. Toegang is gratis, maar daar is slegs 100 plekke beskikbaar.
Besprekings: 013-741-2551.
Tydsduur: 1 uur.

In die blou kamp.
In die blou kamp.

• Hond sal by Bergland Laerskool opgevoer word op die volgende dae en tye:
Woensdag 29 Junie om 09:00
Donderdag 30 Junie om 18:00
Vrydag 1 Julie om 09:00
Saterdag 2 Julie om 13:00
Tydsduur: 65 minute
Prys: R102

Back to top button