Hard newsNews

Soekspan slaap min, maar gooi nie tou op

Ons is ook net gemeenskaplselede, ons verander nie in een of ander superwese as ons 'n uniform aantrek nie.

WITRIVIER – Met ‘n gemiddeld van ongeveer drie uur se slaap per dag, kan owerhede en ander rolspelers nou uiteindelik sê dat die verdagtes wat na bewering betrokke was in die kaping en ontvoering van me. Annatjie Myburgh, agter tralies is.

Hulle bevoegdheid en uithouvermoë is tot die uiterstes getoets tydens ‘n vier dag lange soektog. “Dit vat geduld, maar ek het bly glo ons gaan haar kry,” het kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die polisie se duikeenheid op Witrivier gesê. Potgieter, wat die soekotg vanaf Casterbridge gekoördineer het, en sy span het die damme in die area, wat Klipkoppie, Primkop, Da Gama, Nyaka en Longmere insluit, gefynkam.

“En net wanneer jy dink jy gaan nou slaap inkry, kry jy die volgende oproep,” voeg

mnr. Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice (BCJ) by. “Ek was bietjie bekommerd oor my pa. Hulle het min geslaap, maar ek weet dis sy werk. Ek het net gehoop hulle kry die tannie,” het sy 14-jarige seun, Albé, aan Laevelder vertel.

Die betrokke partye wat onder andere J&M Sekruiteit, BCJ, SAPD, Hi-Tech Security Nelspruit en Divergent Ops ingesluit het, het soms deurnag na leidrade gesoek, en was die afgelope week maar min tuis. “Jy bly glo, en daarom kan jy nooit ophou soek nie,” het kapt. Pieter Smith van die SAPD se blitspatrollie gesê. “Vals inligting was maar net een van die uitdagings wat ons daagliks in die gesig moes staar,” sê hy. “Ons is van bakpoort na stuurboord gestuur. Maklik 80% van die inligting wat ons ontvang het, was vals, maar ons kon dit nie ignoreer nie,” sê hy.

“Sosiale netwerke het ‘n baie goeie rol in die saak gespeel, maar dit was ook ‘n euwel. Ons weet nie wie dit lees nie, en ons het nie beheer oor die inligting wat geplaas word nie. Dit maak ‘n ondersoek geweldig moeilik,” voeg hy by.

Voetspore by die Myburghs se hek en beeldmateriaal van haar Pajero wat by ‘n vulstasie geneem is, was die eerste konkrete leidrade wat enige verdagtes tot die misdaad kon koppel. Dié leidrade, met behulp van tegnologie tot hulle beskikking, het die soektog tot Jerusalem Trust verklein, waar die laaste sein van Myburgh se selfoon Woensdag opgetel is.

“Boere, motor- en bergfietsryers, gemeenskapslede en vlieëniers het sonder om gevra te word, aangesluit by die soektog,” het mnr. Werner Terblanche van J&M Sekuriteit gesê.

“‘n Ieder en ‘n elk van die gemeenskap het gehelp op hulle manier, en elke maatskappy betrokke het geweier om op te gee voordat sy gekry is,” het mnr. Jacques Meiring van Divergent Ops gesê. “Ons het as ‘n mag saamgestaan,” voeg hy by.

“Ons en die familie kan nou ophou wonder waar Myburgh is. Toe ons hoor sy is oorlede, het dit ons soveel meer vasberade gemaak om die verdagtes vas te trek. Ons is ook net gemeenskaplselede, ons verander nie in een of ander superwese as ons ‘n uniform aantrek nie. Ons raak ook hartseer. Jy gaan terug na jou kinders en jou familie toe, en ‘n mens wil besef dat so iets met hulle kan gebeur, en daarom bly jy soek en soek,” het kapt. Pieter Smit, bevelvoerder van die polisie se blitspatrollie, gesê.
Die lede van dié maatskappye hoop dat, as hulle of een van hulle familielede eendag wegraak, mense ook só na hulle sal soek.
Annatjie Myburgh suspect in White River Court
Annatjie Myburgh: Second suspect’s court appearance
Opvolg: Annatjie Myburgh se lyk gekry
Annatjie Myburgh se kinders deel die pyn van hul verlies
Geloofsvraag bly vassteek in Annatjie Myburgh se seun se hart
Honderde verenig in gebed vir Annatjie Myburgh

 


 

Check Also
Close
Back to top button