FeaturesInnibos NuusLifestyle

Vader van teater se snaaksste toneelstuk in Afrikaans te sien

Die Vrou uit die See is een van ses teaterstukke wat hul debuut tydens Innibos in Junie sal maak.

MBOMBELA – Die Vrou uit die See, uit die pen van die vader van moderne teater, Henrik Ibsen, is vanjaar in Afrikaans te sien by Innibos.

Dié drama is een van ses teaterstukke wat hul debuut tydens die fees in Junie sal maak.

Ibsen, die Noorse teaterreus uit die 19de eeu het Fruen fra Havet in 1888 geskryf. Die psigologiese drama is ‘n aangrypende liefdesverhaal vol intrige en is onlangs deur Hugo Taljaard vertaal.

Dit vertel die storie van Ellida (Jana Strydom) wat met die veel ouer dr. Wangel (Gavin van den Berg) getroud is. Ellida was eens verloof aan ’n matroos (Neels van Jaarsveld) wat sy opwagting maak om haar, soos hulle mekaar belowe het, op te eis.

Onder leiding van regiseur Henry Mylne verken Ellida haar onderdrukte emosies, verwarde gedagtes, verskuilde vrese en hoop.

Haar verhaal word ook vervleg met dié van haar man se twee dogters, wat nie veel jonger is as die heldin nie.

Die verhoudings is vol passie, maar ook menslike humor.

Die Vrou Uit Die See

Strydom is meer bekend vir haar televisie- en rolprentrolle. Sy het aan Laevelder gesê sy het vroeër bloot nie die tyd gehad vir toneelstukke nie.

“Ek was baie gelukkig om nog altyd baie te kon werk. Toe het ek met ‘n gesin begin en ek het nie baie tyd gehad vir teater nie. Toe Mylne my bel hiervoor was die tyd net reg.”

Die storie en wonderlike teks het haar ook aangegryp. Sy verduidelik Taljaard het verskeie vertalings gebruik, en die span het verder aan die woorde geskaaf tydens repetisies.

“Dit is ‘n spesiale toneelstuk. Ek dink Ibsen was vêr voor sy tyd. Die sielkunde is universeel en tydloos. Mense het met sekere goed ontwikkel, maar die fundamentele goed bly nog dieselfde.

“Ek dink mense sal baie aanklank hierby vind. Dit is ‘n liefdesverhaal.”

Ibsen is ook bekend vir sy realisme en Die Vrou uit die See delf diep in die karakters se psiges.

“Die lewe en liefde is hárd,” sê Strydom. “Natuurlik is daar ligte oomblikke. Hierdie word beskou as Ibsen se snaakse toneelstuk, omdat daar ‘n gelukkige einde is.”

Vir meesleurende teater op sy beste, moenie hierdie kragtoer misloop nie. Ook met Erik Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies en Natasha Dryden in die rolverdeling.

Die Vrou uit die See is op 28 Junie om 12:00, 29 Junie om 18:00, 30 Junie om 11:00, 1 Julie om 17:00 en 2 Julie om 09:00 in die Nelspruit Stadsteater te sien. Kaartjies beloop R132.

Back to top button