AnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Die dag toe cheethas aan my tone gekou het . . .

Welbekende filmmaker Kim Wolhuter het 'n nuwe vriend vir sy volgende film oor hiënas, Bounce, maar geen van sy ou vriende van die veld is vergete nie.

WITRIVIER – Kim Wolhuter sal veel eerder die magies van hiënas kielie, met jagluiperds in die veld rondkruip, rustig by ‘n luiperd vertoef of saam met wildehonde in ‘n trop hardloop, as om soos verlede week voor ‘n skare bewonderaars van die Wildlife and Environmental Society of South Africa (Wessa) op Witrivier te staan.

Miskien is dit hoekom hy kaalvoet op die verhoog was – om tuis in sy vel te voel. Want hier in die stad is daar ‘n paar dinge wat hom pla.

kim cropped rectangular

Soos dat hiënas altyd as die skurke in animasierolprente uitgebeeld word. Die bekroonde internasionale vervaardiger van natuurlewerolprente en dokumentêre films bewonder die gekolde diere met die “sagte bruin oë”.

“Hulle hou daarvan as jy hulle onder die ken krap,” sê die kleinseun van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se eerste wildbewaarder, Harry Wolhuter. Sy pa, Henri, was ook ‘n wildbewaarder in die wildtuin.

Hy is bekend vir dokumentêre films soos Predators At War (2005), Stalking Leopards (2002) en die meer onlangse Man, Cheetah, Wild.

Dié pa van Penny en Lindy, en Emmy-wenner, verkies om eerder die kamera as ‘n geweer op te tel. Wanneer hy in die veld is om dokumentêre te verfilm, is hy sonder enige wapens.

“Dis uit respek. Met ‘n wapen verander jou gedrag teenoor wilde diere. Hulle is baie subtiel. Hulle verstaan liggaamstaal baie beter as ons.”

Hy is daarvoor bekend dat hy tussen die diere wil leef om sy foto’s en films te neem. “Ek het eers gedink ek mag nie aan wilde diere raak nie. Hiënas het my geleer lyfkontak is toegelaat.”

Vandag is dit juis waarmee Wolhuter hom besig hou. Weer ‘n film oor hiënas en veral oor sy gunsteling, Bounce.

Al was hy vier jaar saam met wildehonde in die veld, kon hy nie so ‘n innige verbintenis as met die hiënas opbou nie.

Die wildehonde het hulle afstand gehou. “Hulle verwelkom nie vreemdelinge nie.”

cheetah-toe Hy het gou geleer dat jy nooit met die roofdiere se vangs moet peuter nie. In die begin sou hy soms ‘n karkas in die  oopte trek om beter skote te kry. “Ek het dit net ‘n paar keer gedoen. Vat aan ‘n roofdier se kos en jy is kompetisie.”

Maar Wolhuter was nie altyd agter die kameras nie. Nadat hy ’n B.Sc-graad verwerf het, het hy op ’n wildplaas in  Botswana as bewaarder gewerk. Dit was vir hom makliker om ‘n kamera as ‘n wapen te dra na ‘n proeftydperk as  filmmaker by Harry Goss.

Hy lê nou reeds 28 jaar met ‘n kamera aan. In die begin het hy altyd uit ‘n voertuig gewerk. Op ‘n dag het sy  veldvoertuig se koppelaar gebreek. Hy moes uitklim ten aanskoue van ‘n luiperd. Sy het hom vanaf ‘n miershoop  dopgehou met haar werpsel daar naby. Hy kon in vrede sy motor herstel.

Hy het houtgerus die volgende dag weer ten aanskoue van die luiperd met sy kamera uitgeklim. Toe storm sy hom  skielik… Hy het onthou wat hy by hiënas geleer het. Hy het haar stormlopie geïgnoreer. Sy het vasgesteek en  omgedraai.

“Moenie na diere staar nie. Dis hoekom hulle so ongemaklik is wanneer daar ‘n veldvoertuig vol toeriste is.”

Hierdie kennis het handig te pas gekom toe ‘n leeuwyfie sowat vyf meter van sy voertuig gestaan het en met een sprong daarin kon kom.

“’n Leeu se blik boor heeltemal deur jou.” Hy het net stadig sy oë geknip. Sy het belangstelling verloor.

Deur die jare het hy geleer om die veiligheid van sy voertuig agter te laat totdat hy amper ‘n onderonsie met ‘n olifantbul, One Tusk, in Zimbabwe gehad het. Terwyl hy vanuit die voertuig verfilm het, was daar wedersydse aanvaarding. Toe hy egter eendag in die veld was en die trop in ‘n rivierloop afgeneem het, het One Tusk ‘n stewige stormlopie na sy wegkruipplek afgesit. “Olifante hou nie van onvoorspelbare gedrag nie.”

Jagluiperds het weer hulle eie nukke. Hy het tydens verfilming bykans ‘n jaar by ‘n jagluiperdtrop gewoon en gereeld vir hulle gefluit. Toe hy teruggekeer het, het hy rustig naby ‘n sekere jagluiperd vertoef.

Sy het hom vir ‘n lang ruk geïgnoreer. Hy het saggies vir haar begin fluit. Voordat sy weggestap het, het sy hom deur die gesig kom lek. “Geen geld ter wêreld kan dit koop nie.”

Back to top button