BlogsFeaturesInnibos NuusLifestyleOpinion

Maak ‘n draai by Tulfeinalm se Heidi

Linda de Beer is ‘n voormalige Laevelder-joernalis wat op haar dag verskeie toekennings ontvang het. ‘n Paar jaar gelede het Linda en haar man, Coenraad, asook hul seuntjie Mattheus, hulself in Innsbruck, Oostenryk, gaan vestig. Hiér op die rand van die Heidi-berge doen Linda nou vryskutwerk en sorg vir haar gesin. Sy keer wel terug na die Laeveld vir hierdie jaar se Innibos waar sy as Muskiet-joernalis vir ‘n paar dae gaan werk. Die musiekblyspel Heidi, is ook vanjaar te sien by Innibos en die produksie is ‘n musikale weergawe van die gelyknamige boek deur Johanna Spyri, wat handel oor ‘n weeskind wat by haar oupa in die Alpe bly. Laevelder het Linda gevra of sy nie ‘n “ware” Heidi-storie ken daar in die Alpe nie.

INNSBRUCK – “Waarheen is Georg?” vra ek nou die Sondag vir vriendin Petra terwyl ons met die kinders na die woudspeelplek op pad is.
Hy is alm toe om Heidi se plante te gaan water gee. Die sneeu lê nog te dik om met `n kar daar te kom. “Want net soos Johanna Spyri se Heidi wat in `n berghut (alm) in die Switserse Alpe gewoon het, woon daar `n Heidi in die berg bokant Tulfes, ons tuisdorp in die Oostenrykse Alpe.
En Heidi van die Tulfeinalm is net so geliefd by kinders soos die storieboek- en strokiesfilmkarakter is. Daar is weliswaar nie bokke in die Tulfeinalm se stal nie, maar in die somer wel koeie.

Stappers word naby die Tulfeinalm deur koeie verwelkom.
Stappers word naby die Tulfeinalm deur koeie verwelkom.

Hulle wei bedags in die bergveld en het klingelende klokke om hul nekke wat vir musiek in die ore van stappers sorg. En vroegaand as die stappers verdwyn het, hoor jy die Alpe-marmotte se fluitroep voordat hulle versigtig nader kom om te vreet aan die groenteskille wat Heidi op `n rots vir hulle uitgesit het.
Tulfes se Heidi woon ook nie saam met haar oupa nie, maar saam met haar lewensmaat, Robert.
Winters in en somers uit maak skiërs en stappers van die gasvryheid in hul gemoedelike houthut gebruik. Tradisionele geregte soos kaspressknödelsuppe (kaaskluitjies in helder aftreksel) en varkschnitzel wat op die Weense manier voorberei word, is groot gunstelinge.

 

Heidi se tradisionele kaaskluitjiesop.
Heidi se tradisionele kaaskluitjiesop.

Van die kinderlike onskuld van Spyri se weeskind is niks by Heidi van die Tulfeinalm te bespeur nie. Met haar bos donkerblonde krulle, dramatiese ooggrimering en tradisionele pinafore en valletjiesbloes wat haar gul bates beklemtoon, maak sy `n wulpse figuur uit.
Die kleineres raak sommer so weg tussen haar borste wanneer sy hulle ná `n blye weersiens groet. Selfs die skugteres laat hulle dit welgeval in die wete dat iets lekkers kort ná die groetslag op die tafel gaan beland.
Soms is dit net `n suigstokkie, maar soms `n blok sjokolade of `n roomys. Toeristekinders wat die Tulfeinalm die eerste keer besoek, word ongelukkig nie so maklik oortuig dat hulle gasvrou gaaf en lief is nie.
So is twee Duitse kinders in hulle spore gestuit toe hulle met die beeld van ‘n bukkende Heidi by die oop deur van die kaggeloond begroet is. Hulle het haar een kyk gegee toe sy orent kom en besluit sy is die nare heks wat vir Hansie en Grietjie in die oond wou bak en opeet.
Heidi van Tulfes hou nou, soos altyd in die lente en herfs, vakansie. Dié dat Petra se Georg elke week twee ure te voet bergop moet stap om haar plante water te gee.

Ek sal haar seker nie voor Augustus weer sien nie, want oor `n bietjie meer as drie weke gaan ek en ander Innibos-feesgangers `n ander Heidi ontmoet – een wat ons gaan laat skaterlag.

Linda de Beer.
Linda de Beer.

Dis nou wel Johanna Spyri se karakter in Heidi, die musiekblyspel, maar soos sy nog nie vantevore gesien of gehoor is nie. Karli Heine vertolk die naamrol, met Tobie Cronjé as die gehate Juffrou Rottenmeier.
Ander akteurs in die rolverdeling sluit Dawid Minnaar, Albert Maritz en Ilse Klink in. Die musiek is deur Mynie Grové. Heidi, die musiekblyspel, is elke dag van Dinsdag 28 Junie tot Saterdag 1 Julie in die Hoërskool Nelspruit Ouditorium op
die planke.

Back to top button