FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Elke emosie onder die son is op die planke

'n Boordensvol produksieprogram bied vanjaar 'n groot verskeidenheid vermaak by Innibos: van klugte en dramas tot boekgesprekke en klassieke musiek

‘n Stewige aanbod van 27 produksies is op die Innibos-program vanjaar, insluitend die kykNET Kos-crawl, die Sappi Boeke-crawl en Woorde Innituin wat eie aan dié gewildste kunstefees in die land is.

Die vrou uit die see, ‘n Henrik Ibsen-drama vertaal deur Hugo Taljaard met Henry Mylne as regisseur, is een van vyf debuut-produksies op die program. Die groot rolverdeling sluit in gerekende akteurs Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Eric Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies, Natasha Dryden en Gavin van den Berg. Dit is ‘n aangrypende liefdesverhaal vol passie maar ook humor. Ibsen word as die vader van moderne teater beskou en dié drama is teater op sy beste.

Die ander toneelproduksies wat ‘n eerste keer op die planke gebring word tydens Innibos, is Pa maak vir my ‘n vlieër Pa deur Chris Barnard, oms deur Chris Vorster, Die ontelbare 48 deur Wessel Pretorius en Hond deur Dana Snyman, spesiaal geskryf vir Frank Opperman.

Die-vrou-uit-die-se_42782Pa maak vir my ‘n vlieër Pa is klassieke Afrikaanse teater. Barnard was sedert die ontstaan van Innibos op die direksie en het in dié opsig ‘n waardevolle bydrae gelewer. Albert Maritz behartig die regie en die rolle word vertolk deur Sandra Prinsloo, Waldi Schulz en Francois Jacobs in dié tydlose stuk.

Tobie Cronjé en Gerben Kamper is die twee ooms wat tot hul spyt saam in ‘n ouetehuis beland wat eerder ‘n verbeteringskool is vir skatryk en lastige oues. Dié ooms sal slegs mandjies vleg en tolletjiebrei indien dit deel is van ‘n indrukwekkende ontsnappingsplan. Slim en snaaks en beslis een om by te woon.

Die ontelbare 48 is ‘n eenmanstuk waarin Laevelder Wessel Pretorius weer eens sy slag wys. Dit is ‘n satiriese drama wat handel oor 48 dorpenaars wat in die kerksaal byeenkom vir die maandelikse fliekaand. Tussen almal wat regskuif om na The Sound of Music te kyk, is daar ook ‘n moordenaar…

Dana Snyman en Frank Opperman het voorheen kragte saamgesnoer in Die uwe, Pottie Potgieter, Rooikaart en Die klaagliedere van ds. Tienie Benade. In Hond gaan dit oor hoe om afskeid te neem van ‘n man se beste vriend, te midde van ‘n wankelrige huwelik. Soos die lewe, is dié stuk ‘n bietjie hartseer en ‘n bietjie snaaks.

Nóg komedies op die program sluit in Die wagkamer met Elize Cawood en Wilson Dunster, Groet die Grotheld met Cobus Venter, Twee susters met Chris Vorster en Hennie Jacobs en My briljante egskeiding met Anthea Thompson onder regie van Hennie van Greunen.

Daar is ook die onderskeie vertonings deur skerpsketsers Schalk Bezuidenhout en Jonathan van Radio Raps, en die klugte Hond se gedagte, Daa’ gaat die bruid en Twee vir die prys van een.

Ernstiger dramas sluit in Blou-blou deur Erik Holm, dramaturg Athol Fugard se People are living there, en Plant vir my ‘n boom, André deur Deborah Steinmar met Erik Holm en Tinarie Loots.

Klawers en eggo’s

Die musiekproduksies bied vanjaar ook ‘n groot keuse. Chris Chameleon en Daniella Deysel is in Africana (dis)seksie, pianis Rocco de Villiers speel geestelike musiek in Beautiful, Beautiful Hymns, en in Klassieke Keur is die sopraan Sibongile Mngoma onder andere te hoor.

Moet ook nie vergeet van die musiekblyspel Heidi nie (ja, Heidi van die Switserse berge!), die onwaarskynlike duo Karen Zoid en Kurt Darren in Kurt en Karen op klavier en die vertoning Eggo’s uit die grotte in die Sudwala-grotte met Corlea Botha, Joshua na die Reën, Michael Barrett en Tuks Camerata.

Draai jou kop nou al? Skink ‘n koppie tee of ‘n glas wyn, kliek op die volledige program by www.innibos.co.za

Met dié propvol program is een ding seker: Innibos Droom Groot!

Die belangrikste is egter om te onthou dat kaartjieverkope op Computicket reeds op Saterdag 2 April 2016 vir Tjirp-lede open, heelwat vroeër as vorige jare, sodat daar oorgenoeg tyd is om te beplan en begroot vir die produksies wat jý wil bywoon.

Tjirp-lede moet die kode IB1613 gebruik wanneer besprekings op Computicket gemaak word.

Om ‘n Tjirp-lid te word besoek gerus Innibos se fb-blad asook hul webwerf.

Back to top button