EnvironmentalHard newsLocal newsNewsNewsSANParks

Spoorhond trap stropers maklik vas

Bobaas spoorhond trek agt renosterstropers plat in drie weke weens sy uithoukrag en vaardighede om 'n koue spoor te vat.

SKUKUZA – Al is hy maar net 15 maande oud is Hitler, ‘n Doberman-bloedhondkruising, een van die moontlike opvolgers van meer onlangse hondehelde soos die internasionaal-bekroonde Killer van die Kruger Nasionale Park (KNP) se honde-eenheid.

Dit sal heelwat verg om dié befaamde bobaasspoorhond se pote vol te staan.

Hitler, ‘n 85-persent kruising se bonkige pote lyk egter gereed daarvoor. Hy het reeds sy slag gewys. Onlangs, binne ‘n tydperk van drie weke, het hy reeds saam met sy hanteerder agt stropers agter tralies laat beland.

Boonop het hy in sy broer, Max, ‘n spanmaat wat spoorsnysukses verseker. Voeg hierby die honde se bestuurder, geesdriftige veldwagter Neels van Wyk en sy hondehanteerders, en jy het ‘n span wat stropers hard in die stof kan laat byt.

Killer, ‘n Belgiese herdershond, het in Januarie ‘n internasionale toekenning gekry vir sy onverskrokkenheid. Die Britse dierebeskermingsorganisasie, People’s Dispensary for Sick Animals, het ‘n goue medalje aan Killer toegeken vir die 115 stropers wat hy in vier jaar vasgekeer het.

Hy is een van 58 bobaashonde in die park se honde-eenheid. Hierdie honde se spoorvatvermoëns om veral voetsoolvlakstropers van oorkant die grens vas te vat, is legendaries. Die stropers sluip die park binne, skiet wild en vlug dan terug oor die grens.

Honde soos Hitler word veral teen sulke stropers ontplooi omdat hulle die reaksietyd na so ‘n stropingsvoorval aansienlik verkort en ook omdat hulle ‘n spoor soggens kan neem wat reeds snags gelaat is.

Neels van Wyk staan in die Nasionale Krugerwildtuin aan die hoof van 'n span hondehanteerders en bobaas spoorhonde soos Hitler.
Neels van Wyk staan in die Nasionale Krugerwildtuin aan die hoof van een van die spanne hondehanteerders en bobaas spoorhonde soos Hitler.

Johan de Beer, hoof van die KNP se honde-eenheid, is kennelik trots op Hitler en sy hanteerder.

“Hy is ‘n saggeaarde hond, maar uitermatig dapper. Hy is geteel en, saam met sy broer, aan ons geskenk deur Gavin Holding-Smith.”

Volgens De Beer maak hierdie spesiaal-geteelde honde uitstekende spoorhonde vir kouespoorlopies.
Anders as Duitse herdershonde en Belgiese Malinois-honde, wat ook ingespan word in die KNP, kan honde soos Hitler veral op ‘n koue spoor loop en is hulle opgelei om veral op mensereuke te konsentreer. Spoorhonde verskil aansienlik van patrolliehonde wat byt, gebruik word om voertuie deur te soek en warm spore te volg.

“Hierdie kruising se uithouvermoë is ook veel groter as dié van die ander honde wat ons gebruik. Hulle kan die spoor vat vir enige tyd tot so 14 uur waar ander honde so vir drie uur gebruik kan word. Ons laat hulle na elke uur in die koelte rus.”

Volgens De Beer hang spoorhonde se vaardighede af van hoe hulle aanvanklik opgelei is.

“Dis duidelik Hitler is goed opgelei. Hierdie honde lewe vir hul neuse,” sê De Beer.

Hitler het hom juis onlangs onderskei deur meer as 20 kilometer spoor te sny.

“Honde soos hy kan ons neem waar ons nie meer ‘n spoor kan sien nie en is ook nie gepla om te byt nie. Hulle wil net die werk klaarkry.”

Meeste van die honde woon by hul hanteerders in ‘n hondehok op hul erf. Hulle eet spesiaal ontwikkelde kos wat deur ‘n bekende hondekosvervaardiger geskenk word.

Die honde-eenheid vind ook eersdaags baat by ‘n skenking wat deur bekende oud-marathonatleet en Comrades-kampioen, Bruce Fordyce, namens Parkrun en ‘n groep stappers en drawwers gemaak is. Die organisasie beywer hom vir fiksheid en organiseer gratis vyf kilometer draf- en staptogte in aangename en rustige parkomgewings.

Fordyce en ‘n groep van Parkrun het onlangs die KNP besoek en met Hitler kennis gemaak om die donasie te oorhandig. Parkrun vat hande hiervoor saam met die KNP Honorary Rangers.

Neels van Wyk, die veldwagter wat verantwoordelik is vir Hitler se hanteerder, is trots op die span en Hitler se prestasies.

Hy beklemtoon egter dat daar nog ‘n troefkaart in sy span is naamlik Hitler se broer, Max. Die twee het sowat ses maande gelede onder sy sorg gekom.

“Ons gebruik die twee in aflosrolle en as die een moeg word, span ons die ander een in. Saam kry hulle baie reg.”

Hy verwag dat die span ‘n hele klomp suksesse sal inryg.

“Sodra dit eerste lig word, is hulle gretig om die spoor te vat. Hulle is ideaal vir hierdie omstandighede en is uiters hardwerkende honde.”

Check Also
Close
Back to top button