AnimalsEnvironmentalNews

Wrede invloed van droogte al hoe meer sigbaar

Die arme ding het haar bek wawyd oopgemaak weens die pyn, maar sy was te swak om die aanval af te weer

SKUKUZA – ‘n Seekoei-koei wat reeds só verswak was weens die honger as gevolg van die heersende droogte, se kalfie het haar verbete teen ‘n leeu probeer beskerm. ‘n Gereelde wildtuinganger het dié seldsame en wrede toneel aanskou, en foto’s van hierdie verbysterende gevolge van dié droogte sal sekerlik eendag deel vorm van die geskiedenisboeke.

Mnr. Hanno Erasmus, wat boer tussen Pretoria en Badfontein, het verlede Woensdag in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) aangekom. Hy het Vrydagmiddag op die pad vanaf Skukuza na Tshokwane oor ‘n brug naby die Sandrivier gery en die seekoei-koei en haar kalfie daar naby sien lê.

Lees ook: Kruger getting house in order for severe drought

“Sowat 200 meter verder was drie leeus wat ‘n koedoe gevang het. Ek kon toe al duidelik sien dat die seekoei erg verswak was,” het Erasmus vertel.

Hy is die volgende dag omstreeks 05:50 terug na die toneel en was die enigste een daar. “Dit het gereën en ek kon sien hoe ‘n leeumannetjie vir die seekoei en haar kalfie kyk en na hulle toe loop.” Erasmus het besef hier kom ‘n een-keer-in-‘n-leeftyd-ervaring en het gewag. Die leeu het later die twee bekruip en die ma van agter aangeval. Hy het sy kloue in haar agterlyf ingeslaan en haar naby die stert gebyt.

“Die arme ding het haar bek wawyd oopgemaak weens die pyn, maar sy was te swak om die aanval af te weer.”
Haar kalfie het egter ‘n dapper poging aangewend en op die leeu afgestorm. Die leeu het dan tydelik die aftog geblaas, maar telkens weer die koei gegryp. Erasmus het sowat vier uur hier spandeer. Hy is later daar weg en het gehoor dat die koei nie lank hierna nie, dood is. Die kalfie is ook ‘n paar dae later dood – net daar langs haar ma – heel waarskynlik omdat sy nie meer aan haar kon drink nie.

Erasmus het van sy foto’s op “Kruger National Park – Best Place on Earth” op Facebook gelaai en dit het groot aftrek gekry. ‘n Ander wildtuinkenner het hom daarop gewys dat die betrokke leeu self ‘n interessante storie het.

Lees ook: Rain brings little relief for Kruger

Dit was Junior, ‘n alleenlopermannetjie van sowat vier jaar oud wat voorheen deel was van die Nukuhma-trop in Sabi Sand. Hy is verlede jaar uit die trop gegooi nadat ander mannetjies in gevegte met mekaar doodgemaak is.
Daar is gevrees dat Junior nie lank sou leef nie omdat hy moontlik nog nie al die nodige jagvaardighede bemeester het nie.

Hy vorder egter goed en aanhangers hoop dat hy binnekort by ‘n trop sal aansluit. Hy het selfs sy eie Facebook-blad waar gereelde wildtuingangers foto’s van hom plaas.

• Seekoeie is besig om teen ‘n vinnige tempo in die wildtuin te vrek weens die droogte omdat daar nie genoeg gras is vir hulle om te vreet nie. Kenners het voorspel dat die getalle van nagenoeg 8 000 na sowat 2 000 sal afneem.

Back to top button