Hard newsNews

Laeveldse dwelmverslaafdes praat uit

"Kom ek vertel jou van my dwelmtrip..."

MBOMBELA – Die stad word deur baie beskou as ‘n plattelandse dorpie, gevrywaar van versoekings soos dwelms waarmee jongmense in Gauteng dikwels gekonfronteer word. Praat jy met plaaslikes wat teen verslawing veg, besef jy egter die teendeel is waar.  Inteendeel, een verslaafde het opgemerk dat hy eers “skoon” gekom toe hy weggetrek het, omdat dit so vrylik hier beskikbaar is.

“Kom ek vertel jou van my dwelmtrip.

Eers het alles wat ek kon sien verdubbel en toe in vier gedeel. Die beelde voor my het aanhou vermenigvuldig totdat ek nie meer kon kophou nie.

Toe begin die geluide. Alles wat ek gehoor het, het herhaaldelik in my ore weergalm. ‘Is jy okay?’ het almal oor en oor gevra. Skril stemme het vir my begin lag.

Iemand het my arm gevryf, maar dit het gevoel asof sy vingerpunte diep hale in my arms krap – my tassintuig was hipersensitief.

Toe word alles om my donker. ‘n Stem het my gevra of ek wou bly leef en of ek wou sterf, Ek was vreesbevange en het laasgenoemde gekies voor ek my bewussyn verloor het. Ek het die volgende oggend wakker geword.”

Só vertel Anja Lourens*, wat na ‘n eenmalige ondervinding met “laced dagga” besluit het om nie weer met dwelms te eksperimenteer nie.
Shaun Jooste* het anders besluit. “Sit my in enige dorp. As ek nie binne ‘n uur en ‘n half my fix kan kry nie, is ek ‘n k*k ou.” Dit was vir lank sy self-opgelegde uitdaging.

“Jy kon my in Sunnyside neersit. Twee strate later sou ek CAT in die hand gehad het,” het hy Dinsdag aan Laevelder gesê. Volgens Shaun is dit geen uitdaging om dwelms in die Laeveld in die hande te kry nie. ”

As jy dit wil hê, kan jy dit kry. Jy moet net weet hoe om ‘n dealer se oog te vang.” Shaun het gesê dat hy altyd begin het deur na mense se aksente te luister. Nigeriese aksente het sy aandag getrek. “Dan maak jy oogkontak met die ou en vryf jou neus. As hy knik, het jy dalk wat jy soek. Hy sal dan na jou kant toe beweeg sodat julle kan gesels.”

“Shortbrown” – ‘n gedeelte van Brownstraat – is die stad se dwelmmekka,” het ‘n ingeligte bron aan Laevelder gesê. CAT kan glo daar opgeraap word teen R200 to R300 per gram. Crystal meth kos R300 per gram en kokaïen enigiets tussen R300 en R600 per gram, afhangend van die kwaliteit daarvan. Ecstacy kos R80 tot R120 per pil. Andersonstraat is glo dié plek vir heroïen, wat so R275 per gram kos.

Shaun het onthou dat dwelms hom ‘n magdom geld gekos het. “Ek het alles verloor as gevolg daarvan en moes met wilskrag besluit om daarmee op te hou.” Dwelmhandelaars het hom hierna een of twee keer gebel. “Hulle sou my ‘geskenkies’ aanbied, wat waarskynlik dwelms was, maar ek het ‘nee dankie’ gesê.” As Shaun die handelaars geld geskuld het, sou dinge waarskynlik anders uitgedraai het. “Moet geen fout maak nie,” het hy gewaarsku. “Hulle soek jou nie, hulle soek jou geld. ‘n Handelaar sal ‘n 9-mil (pistool) teen jou kop druk en jou brein wegblaas as jy hom geld skuld.”

Met dwelmgebruikers wie se stories nie soos Shaun s’n geëindig het nie, kan dinge tot ‘n lelike einde kom:

“OD. Oordosis. Die persoon kan rukkings kry, uitpass,hallusineer of hartpalpitasies kry. Dan gebeur een van twee goed: jy gaan dood of iemand red jou.”  ‘n Plaaslike dwelmdeskundige wat anoniem wil bly, het hierdie prentjie aan Laevelder geskets.

Hierdie “iemand” wat jou red, is gewoonlik ‘n nooddiensbeampte. Omdat dwelmgebruikers bitter selde bieg oor hul gewoontes, is dit moeilik om te bevestig watter middels in die pasiënt se sisteem is. Dit maak nooddiensbeamptes se taak baie moeilik. ‘n Mens kan in sommige gevalle iets wys word uit pildosies of leë botteltjies op ‘n toneel, maar dit is in baie gevalle moeilik om te weet wat die pasiënt se toestand veroorsaak het,” het Mpumalanga EMS se mnr. AJ Dreyer aan Laevelder gesê.

Dieselfde nooddiensverskaffer se me. Louise Nienaber het hierop uitgebrei: “Vir elke dwelm, is daar ‘n sogenaamde ‘teenmiddel’. As ons nie kan vasstel watter dwelm die pasiënt ingeneem het nie, kan ons nie die gepaste teenmiddel toedien nie. In sulke gevalle kan ons die pasiënt simptomaties behandel, byvoorbeeld deur sy asemhaling aan die gang te hou tot by die hospitaal, waar sy maag uitgepomp kan word en die dwelms in sy sisteem bevestig kan word,”

Dwelmmisbruik is, volgens die Suid Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkhohol- en Dwelmafhanklikheid (SANCA), ‘n wesenlike probleem in ons streek. Volgens die organisasie se mees onlangse statistieke, meld ongeveer 44 pasiënte per maand vir alkohol- of dwelmafhanklikheid by hul Laeveldse tak aan. Tussen April en September 2015, het 109 pasiënte vir alkoholafhanklikheid hulp versoek, 146 vir dagga afhankliheid en 29 vir nyaope-afhanklikheid. Laasgenoemde is ‘n mengsel van dagga en heroïen wat gerook word. Een-en-veertig pasiënte is vir verslawing aan CAT of kokaïen behandel en 21 vir heroïen-, morfien- of benzodiazepienverslawing. Vier pasiënte het vir tikverslawing en drie vir verslawing aan sogenaamde “inhaleerders” aangemeld.

SANCA se me. Charleen van Dort het beklemtoon dat die meeste verslaafdes, kinders is. Volgens Van Dort bestaan die stad se SANCA-span uit sewe maatskaplike werkers, ‘n toesighouer, ‘n geregistreerde verpleegster en ‘n dokter wat vrywillig diens doen vanuit hul kantore in Hope Straat. “Ons het ook ‘n voorkomingspan wat uit vier mense bestaan.”

Hierdie 14 mense bedien ‘n 50-kilometer radius in due Ehlanzenistreek, wat ‘n satellietkantoor in Umjindi insluit. Laasgenoemde funksioneer twee dae per week.
“Beperkte befondsing maak dit egter vir SANCA Laeveld moeilik om ons dienste verder uit te brei. So ook is detoksfasiliteite baie duur en moeilik bekombaar,” het van Dort gesê. Sy het ook genoem dat die Laeveld ‘n dringende tekort het aan halfweghuise. “Dit sal gerehabiliteerdes sonder ondersteuningsnetwerke help om suksesvol in die gemeenskap te herintigreer.”

Dis nie net SANCA wat ‘n tekort ervaar in die stryd teen dwelmmisbruik nie. Meer as een ondersoekbeampte het al in die Nelspruit Distrikshof op rekord geplaas dat daar baie dwelms in die Laeveld sirkuleer, maar dat daar slegs ‘n handjievol polisiemanne is wat dit bestry.

‘n Betroubare bron het nog uitdagings wat die polisie in die gesig staar, toegelig: “Dwelmhandelaars het in baie gevalle verskillende paspoorte, waarvan sommiges vals is. Hulle huur gewoonlik iewers kamers in terme van ‘n mondelinge kontrak. Wanneer borg vir so iemand toegestaan word, is dit ‘n gegewe dat hy soos mis voor die son gaan verdwyn.” Volgens ‘n ander bron, het Mbombela ‘n spesialishof nodig wat net met dwelmverwante sake werk. “Die probleem is groot genoeg dat dit so ‘n hof regverdig,” het hy gesê.

“Ons stad het mannekrag, kundigheid met betrekking tot dwelmwetgewing en strawwer vonnisse vir dwelmhandelaars nodig. Daarsonder sal hulle week na week terugkeer strate toe en bly doen wat hulle doen.”

*Skuilname

Lees ook: Drug use skyrockets in South Africa

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button