Hard newsNewsUpdate

Vrou en ongebore baba se dood ruk gemeenskap

Hulle het verduidelik dat Kara 'n baie groot slag op die maag gekry het en dat die plasenta losgeskeur het

MBOMBELA – ‘n Bekende Laeveldse gesin is in rou gedompel nadat hulle jongste dogter – wat volgende maand aan ‘n seuntjie geboorte sou skenk – Dinsdagaand in ‘n ongeluk dood is.

Me. Kara de Pradines (21) was 34 weke swanger. Sy en haar verloofde, mnr. Jaco Sevenster, sou hulle baba Dawid genoem het en het hom teen 5 April verwag. “Sy het só uitgesien na die baba. Die kamer was reg en sy kleertjies het reeds volgens die groottes gehang. Dawid moes net kom,” het haar ma, me. Christelle de Pradines, vertel.

Kara was ‘n hulponderwyseres by Laerskool Nelspruit en leerlinge het Woensdag gehuil toe hulle gehoor het hulle geliefde juffrou kom nie weer terug nie. Sy het gereeld saam met hulle vir selfies geposeer. “Sy was baie lief vir haar kinders by die skool,” het haar skoonsuster, me. Monique de Pradines, bygevoeg.

Lees ook: Hoogswanger vrou sterf in ongeluk

Kara was Maandag omstreeks 17:00 vanaf die stad op pad na die gesin se huis by Alkmaar. Sy en Sevenster het daar in ‘n woonstel gebly. Sy het by Montana Kwekery, skaars ‘n kilometer van haar huis af, beheer oor haar Volkswagen Polo verloor. Dit het gerol en Kara is by die venster uitgeslinger. Sy het onder ‘n versperring aan die ander kant van die pad beland.

Mnr. Dane Ross, mede-eienaar van die kwekery, het die ongeluk vanuit sy kantoor sien gebeur. Hy is na die toneel en het Kara se pa, mnr. Henry de Pradines, dadelik geskakel. Hy en Christelle het sowat 10 minute vantevore vanaf vakansie in Namibië teruggekeer en hy het hom na die toneel gehaas.

Lees ook: Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring

Verbygaande motoriste het gestop om hulp te verleen. Nooddienste het kort hierna opgedaag en ‘n ambulans van Netcare 911 het Kara na Mediclinic Nelspruit geneem. Kara se ginekoloog, dr. Richard Joubert, was by die hospitaal.

Daar kon nie met behulp van ‘n sonar ‘n hartkloppie by Dawid opgespoor word nie. “Hulle het verduidelik dat Kara ‘n baie groot slag op die maag gekry het en dat die plasenta losgeskeur het. Die baba is waarskynlik op slag dood,” het haar suster, me. Nadine Labuschagne gesê. Kara is omstreeks 21:00 dood, waarskynlik weens interne bloeding.

Sy laat ook ‘n broer, mnr. Henry de Pradines; ‘n swaer, mnr. Jan Labuschagne; ‘n ouma, me. Isabaue de Kock en oupa, mnr. Jimmy de Pradines, agter. Sy het onderwys by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus gestudeer, maar het haar studies daar kortgeknip toe sy uitgevind het sy is swanger.

Sy het dit deur Unisa hervat en vanjaar by Laerskool Nelspruit begin klasgee, in onder meer Afrikaans, Engels en aardrykskunde. Sy en Sevenster sou op 10 September trou.

“Die laaste vyf maande van haar lewe… swanger en saam met Jaco. Dit was die beste tyd van haar lewe,” het Christelle geglimlag. Hulle sal haar glimlag, en vreemde en spontane lag onthou,” het Monique vertel.

“‘n Aansteeklike lag,” het Christelle bygevoeg en Sevenster het dit beaam. “Sy kon die lekkerste kos maak en koeke bak,” het Christelle voortgegaan.

“Sy was altyd bereid om te help, met enigiets,” het Monique bygevoeg. “Sy was die mooiste mens. Lief vir die Here, vir Dawid, vir my en ek vir haar. ‘n Omgee-mens wat net die beste wou wees vir die mense vir wie sy lief was,” het Sevenster aangedaan gesê.

Christelle het vertel dat hulle oproepe van medelye van regoor die wêreld gekry het. “Van Kanada, Zambië… Sy het oral mense se lewens aangeraak.” Verskeie boodskappe van medelye is ook op haar Facebook-blad geplaas.
Die gesin bedank Joubert vir sy hulp, asook almal wat gestop het om hulp by die ongelukstoneel te verleen en almal vir hul ondersteuning en liefde.

‘n Gedenkdiens sal Maandag vir Kara en Dawid gehou word, maar die reëlings is nog nie gefinaliseer nie. Vir enige navrae, skakel Nadine by 072-835-5389.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button