AnimalsHealthLifestyleLocal newsNewsPeople

Hond help sy ounooi op pad na herstel

Hoewel daar nie baie honde-terapie organisasies in die Laeveld is nie, baat baie eienaars steeds van ons viervoetige vriende se terapeutiese eienskappe. Lees Rose Maree en Ely die Duitse korthaar-pointer, se storie hier.

MBOMBELA – Kry vir jou ‘n hond! Dit is die woorde van Rose Maree, wat drie jaar gelede met kanker gediagnoseer is.
“‘n Mens kry rustigheid en ‘n sin van veiligheid wanneer hulle by jou is, net teen jou kom sit of op die bank langs jou lê of saam met jou in die kamer is.”
Hoewel daar nie baie hondeterapie-, hulp- of gidshondorganisasies in die Laeveld is nie, speel ons viervoetige vriende ‘n merkwaardige rol in die lewens van siek mense, bejaardes, gestremdes, diegene wat aan ‘n geestesongesteldheid ly, blindes en kankerpasiënte.
Terwyl diereterapie die formele en begeleide interaksie tussen ‘n individu en opgeleide dier is om ‘n spesifieke doelwit te bereik, trek baie eienaars ook fisies, psigies en emosioneel voordeel uit hul dierekinders se terapeutiese natuur – selfs om net aan die basiese behoefte van aanraking te voldoen. Daar is al klinies bewys dat selfs net om ‘n dier te streel jou bloeddruk kan verlaag, stresvlakke verminder en depressie kan verlig.
So het Rose (67), wat in 2012 die eerste keer met kanker gediagnoseer is, ‘n spesiale kameraderie met haar troeteldier ontwikkel. Bestraling en chemoterapie het nie die gewenste uitwerking gehad om van die sarkoom ontslae te raak nie, en Rose en haar man, Johan, moes ‘n keuse maak – ‘n ernstige operasie en moontlik 10 of 15 jaar met goeie lewenskwaliteit, of jaarlikse chemoterapie. Met die ondersteuning van haar familie was dit nie ‘n moeilike keuse nie en het sy met die operasie voortgegaan. En dit is hierna wat die spesiale band tussen haar en haar hond ontwikkel het.
Hoewel die Maree-familie baie lief vir diere is en al alles van hoenders tot honde op hul erf aangehou het, was Rose aanvanklik glad nie lief vir hul Duitse korthaar-pointer, Ely nie. Sy en haar man moes hom op eenjarige ouderdom by haar seun oorneem nadat hy in ‘n bakleiery met ‘n ander hond betrokke was, en sy was van mening dat hy arrogant en bederf is.
Maar nadat Rose ná die operasie terug huis toe is, was Ely elke dag langs haar bed met sy kop op haar bors. Die herstelproses was nie maklik nie en suster Rhona Labuschagne van KANSA moes gereeld kom help. Maar Ely het haar nie vir een oomblik gelos nie. “Vlooi die worshond mag nie eers naby my gekom het nie,” vertel sy. Tot vandag toe mag Vlooi ook nie die kamer binnekom as Ely eerste daar is nie, maar ten spyte daarvan, het Vlooi ook vir Rose tydens haar herstelproses bygestaan.

rose8 (Medium)
“Hy is baie spesiaal vir my omdat ek glo hy het geweet as ek nie lekker gevoel het nie. Wanneer ek sy lang ore streel, kom daar ‘n rustigheid oor my. Hy lê tot soms saam met ons op die bed,” sê sy. Ely en Vlooi kry dan natuurlik ook elke oggend saam met haar koffie en beskuit in die bed. Hoewel Rose steeds van mening is dat Ely bederf is, is hy baie liefdevol en glo sy dit is terapeuties van aard.
Ely is nou al vier jaar by Rose en Johan. Lê jy besoek af by die Marees, word jy deur Ely gegroet wat dan sommer gou uithardloop en die gemorspos uit die poshokkie haal en vir haar bring. Dit is dan ook ritueel om die daaglikse koerant sommer by die afleweringsman te vat en vir sy eienaar in die hand te stop. “Hy wil altyd iets vir my bring en is ook baie lief daarvoor as ek vir hom ‘n tennisbal gooi en hy dit kan terugbring.”
Soos enige ware diereliefhebber is dit maar vir Rose en Johan swaar om hul hondekinders by die huis te los as hulle naweke weggaan. “Dit voel vir my of hulle dink ons verwerp hulle, maar ons is baie lief vir hulle.”
Rose het onlangs die goeie nuus ontvang dat sy na drie jaar steeds kankervry is. “Die emosies loop hoog hoe nader die check-ups kom. Ons gebedsgroep is baie ondersteunend, ook werksmense, vriende en my kinders, maar my man was en is nog my grootste ondersteuner vandat ek die operasie gehad het – hy is die een wat my help.”

KANSA Bark for Life vind op 31 Oktober om 10:00 by Pro-Life op die R40 plaas en wil sodoende fondse insamel terwyl die kameraadskap tussen honde en hul eienaars gevier word.

butters_after_the_walk_562275-Medium-800x533

 

 

Lees ook: 

Ontmoet vir Golda, die kanker-oorlewende hond

Hierdie brak is die Kansa Bark For Life-gelukbringer, is aangeneem en het kanker oorleef.

Untitled-1 (Medium)

Back to top button