AgricultureAnimalsAnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

1 000 jaar om grondeise af te handel?

“Boere moet hulle nie te vinnig ontstel in geval van ‘n grondeis nie en eerder met TLU SA kontak maak. Ons boer steeds, nie te danke aan die regering nie, maar ten spyte van die regering.”

MBOMBELA – Die huidige grondeise proses gaan nie in een mens se leeftyd afgehandel word nie. Trouens, teen die huidige tempo gaan slegs die 20 737 eise wat in die eerste kwartaal van vanjaar ingedien is, meer as 55 jaar neem om te finaliseer, en dit sluit nie die eise in wat nog uitstaande is van die vorige rondte nie, ook nie die wat na die eerste kwartaal ingedien is nie, en uiteraard ook nie dié wat nog tot 2019 ingedien moet word nie.

Altans, so beweer TLU SA in ‘n onlangse persverklaring wat deur hul uitgereik is.

“Die Departement verwag dat sowat 379 000 eise ingedien sal word. Daardie eise sal dan in ongeveer 1 000 jaar gefinaliseer word. Hierdie skep bowendien valse verwagtings by eisers dat hulle nog in hulle leeftyd ‘n vergoeding gaan ontvang.”

Dit is mnr. Louis Meintjes, TLU SA se President, se reaksie op syfers wat in die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming ter tafel gelê is.

“TLU SA was reg in sy waarskuwing dat die regering met die nuwe eiseproses ‘n kan wurms gaan oopkrap wat hy nie kan hanteer nie,” sê Meintjes. Hy meen daar word doelwitte gestel wat onrealisties is en wat nie behoorlik deurdink is nie.

“Die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ly, soos so baie ander departemente, aan ‘n gebrek aan kapasiteit en kundigheid, en word nog net gedryf deur ‘n politieke agenda en ideologie wat sienderoë misluk,” sê Meintjies.

Hy sê die ANC-regering wil skynbaar nie leer uit die duur lesse wat al elders in die wêreld geleer is nie en dat die resultaat is dat boere onseker is oor hulle toekoms. “Jong toetreders huiwer om in landbou betrokke te raak en die verbruiker begin al hoe meer bekommerd raak dat as hy nog kos op die tafel gaan hê, dit onbekostigbaar duur kan word.”

Meintjies het hom ook uitgespreek oor die ekonomie en gesê dat die land huiwer op die rand van ‘n resessie. Hy meen ‘n verantwoordelike regering sou nou al sy aandag aan die herstel van die ekonomie gegee het en die onwerkbare grondeiseproses onmiddellik opgeskort het. “Helaas het ons die ANC-regering nie as verantwoordelik leer ken nie, dus kan ons verwag dat toestande net nog slegter gaan word,” het hy gesê.

Hy het boere egter aangemoedig om hulle nie deur regeringsbeleid van stryk te laat bring nie en gesê dat hul positief voort moet gaan om die verbruiker met kos op die tafel te voorsien. “Boere moet hulle nie te vinnig ontstel in geval van ‘n grondeis nie en eerder met TLU SA kontak maak. Ons boer steeds, nie te danke aan die regering nie, maar ten spyte van die regering.”

Back to top button