EntertainmentFeaturesInnibos NuusLifestyleReviews

Paul Boekkooi gesels met Sandra Prinsloo

Sandra Prinsloo is die mees jeugdige doyenne denkbaar in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf, met ‘n vlak van produktiwiteit wat steeds onstuitbaar blyk te wees. As ‘n gereelde en uiters gewilde besoeker aan Innibos, gaan sy vanjaar die vroulike hoofrol in die première van Wessel Pretorius se jongste drama en opdragproduksie, Die dag is bros speel. Paul Boekkooi het met haar gesels.

Hoe groter die uitdagings, des te meer wil Sandra Prinsloo daarvan deel wees. Dit sou niemand wat voluit insae in die lewe het van een van ons grootste, steeds voluit lewende en onstuitbare aktrises enigsins verbaas dat sy in die aanloop tot Innibos 2015 besig was om gelyktydig aan twee stukke te repeteer nie: Wessel Pretorius se Die dag is bros en Who’s Afraid of Virginia Wolf? van Edward Albee.

Beide is uitmergelende dramas wat van die onderskeie vroue, Elsa en Martha, verwag om diep in hul psiges te grawe en steeds met oortuigende en geronde karakters na vore te kom. Wat meer is: Toe ek Sandra se bestuurder en agent, Alexa Strachan, nader om dié onderhoud te reël, sê sy: “Wat dit alles nog meer ingewikkeld gaan maak is dat Sandra tussenin ook nog betrokke is by ‘n advertensie wat vir Media 24 geskiet moet word en jy weet mos hoe só iets die beskikbare tyd nog verder kan insluk…”

Oor verskeie tydperke gedurende haar lewe toe ander mediums soos rolprente en televisiereekse al haar tyd ingeneem het omdat daar veral in die oorgangsjare na ons demokrasie ‘n slapte rondom lewende teater ingetree het, was Sandra deurlopend bereid en geesdriftig daaromtrent om terug te keer na die bron: Lewende teater.

Later, soos wat begrotings begin krimp het, was die natuurlike pad om te loop dié van die eenpersoonstuk. Haar vuurdoop in dié veeleisende genre was in Die Naaimasjien van Rachelle Greeff – ‘n stuk wat later ook in Engels vertaal is en met welslae tydens die Edinburgh Fees opgevoer is.

Relatief kort daarna het die emosioneel gelaaide treffer Oskar en die Pienk Tannie gevolg. Haar inlewing, stemwerk, karakterryke aksente en liggaamstaal was intens meevoerend en het die harte van elke vrou, moeder of ouma anders laat klop. Maar nou, met Die Dag is Bros, is daar ‘n splinternuwe vrouekarakter – dié van Elsa – wat ontwikkel kan word en, soos Sandra in ‘n vorige onderhoud laat blyk het, “wanneer mens die verhoog saam met ander akteurs deel, word mens amper soos familie”.

In dié Pretorius-stuk deel sy die verhoog met Ben Albertyn in die rol van Tertius, ‘n aspirantskrywer, Nicole Holm as die verpleegster Irma, asook Dean Smith as Brian, nóg ‘n voornemende skrywer wat Elsa as jong opgeskote seun onder haar vlerke begin neem het en veral in die tweede helfte van die drama die prominente manlike karakter daarin word.

Die karakter Elsa, ‘n lektor in Afrikaanse letterkunde, is as mens ook letterlik op die krukkerlys, want in die aanwysings aan die begin van die drama meld die dramaturg dat sy met die hulp van ‘n enkele kruk rondbeweeg, maar maan dat sy dit nie hoef te oordoen nie. Al laggend het Sandra verduidelik: “Jy is reg, maar in ‘n enkele sin vroeg in die drama is daar verduidelik dat sy die kruk nodig het vanweë die gevolge van ‘n selfdoodpoging wat sy probeer uitvoer het, maar al gou het daardie sinnetjie uit die teks verdwyn.”

Sy erken dat dit Elsa is, ‘n gelaaide en emosioneelverwikkelde karakter, wat haar as Sandra se analitiese vermoëns uitdaag. “Ek hou van die nuwe-generasie stukke waar die slypwerk aan persoonlikheidsontwikkeling gaandeweg deel van die repetisieproses word en anders is as die vaste vorm wat klassieke stukke soms afdwing.”

“Dit is iets wat in die verlede selde gebeur het, maar daar was tog ook uitsonderings. Ek onthou nog goed dat ons destyds met Siener in die Suburbs (PG du Plessis) en die regisseur Francois Swart nogal lank oor spesifieke woorde in die dialoog gepraat het.” Met Die Dag is Bros is dit die eerste keer dat sy saam met die regisseur Neil Coppen werk. “Hy is ‘n lieflike mens en hanteer die teks baie fyn en analities. Daar is twee groot rolle, myne en Brian s’n, asook die twee kleineres. Neil, wat ‘n Engelse vertaling van die teks by hom het, begelei ons met oorgawe in die ontwikkeling daarvan.”

Tertius is Elsa se oorlede seun en is dus ‘n spookkarakter in die stuk wat bepaald verteenwoordigend is van ‘n lang tradisie in teater, hetsy in drama of komedie. Elsa se herinnerings aan hom as kind en jong seun word op die verhoog uitgespeel. Tertius se karakterkenmerke kom duidelik in van sy lang dialoë na vore en is volgens Sandra ‘n belangrike sleutel om sy plek in die stuk te begryp. “Dit is asof hy in hulle begrip by die kyker vestig oor die grys gebied waarbinne hy beweeg en ook sy verhouding met sy ma saambind,” verduidelik sy.

Wessel Pretorius gebruik twee keer poësie as ‘n metafoor in sy jongste pennevrug en verwys daardeur ook pertinent na die digkuns van Sheila Cussons. “Ek is mal daaroor. Ons moes weliswaar veranderinge aanbring wat te make het met die feit dat Die Dag is Bros ‘n gewelddadige einde het en Cussons se gedig oor Maria na dié tonele sy gepaste effek sou kon verloor het, maar dit bly ‘n besondere weerspieëling wat sinspeel op Elsa se verhouding met Tertius.

Sandra Prinsloo is duidelik baie gelukkig om steeds voluit deel te wees van die energieke stuwing wat die hoofstroomteater in Suid-Afrika verteenwoordig en op ‘n opwindende manier kenmerk. Ook om baie daarvan in Afrikaans te kan doen is beslis vir haar ‘n verdere bonus. In ‘n onderhoud wat Hannie Boshoff namens die Fak met Sandra gevoer het en in hul jongste nuusbrief gepubliseer is, vra die onderhoudvoerder: Hoe sal jy die jeug aanmoedig om Afrikaans te bevorder?

Sandra antwoord hierop: “Praat Afrikaans, redeneer in Afrikaans en weet dat Afrikaans so’n kleurryke en gewortelde taal is dat jy kan spog daarmee. Dis ook die jongste en dus vernuwendste taal in die wêreld.”

Back to top button