AnimalsEnvironmentalHard newsNewsNews

Geldelike krisis kan DBV noop om binnekort deure te sluit

"Die munisipaliteit het op een enkele dag 40 honde hier kom aflaai."

MBOMBELA – Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) mag dalk binnekort sy deure sluit, indien barmhartige Samaritane nie vinnig ingryp om hul geldelike nood te help verlig nie.

Die veilige hawe vir vermiste, verwaarloosde en ongewenste diere se veeartsrekeninge het reeds die R140 000-merk sedert die begin van die jaar verbygesteek.

Die onkostes sluit sterilisasies, die behandeling van wonde, inentings en ook die uitsit van diere in. Ongeveer 200 honde en 150 katte word tans by dié tak gehuisves.

In ‘n poging om geld in te samel het die DBV reeds vantevore die “Pledge a Paw”-projek geloods wat op ‘n debietaftrekkingstel-sel gebaseer is.

Hiermee word die publiek gevra om ‘n minimum van R50 en ondernemings R100 per maand by te dra. Volgens die hoof- uitvoerende direkteur, mnr. Louie Amorim, streef hulle daarna om 1 000 lede op die stelsel te kry. Daar is tans slegs 180.

Volgens Amorim is daar oor die afgelope paar maande ‘n beduidende toename in dieregetalle opgemerk en is dit veral moeilik om kop bo water te hou met dieregetalle wat daagliks styg. “Die munisipaliteit het op een enkele dag 40 honde hier kom aflaai,” het hy geskok vertel.

“Ons kan nie diere wegwys nie. Ons moet hulle eenvoudig inneem en ‘n plan probeer maak.” Amorim het ‘n beroep op die publiek gedoen om te help.

Volgens hom is donasies belasting-aftrekbaar en kan die debietorder binne 20 werksdae gestop word. “Dit word verder outomaties gekanselleer na die tweede nie-betaling en ons verskaf ook ‘n belastingsertifikaat,” het hy bygevoeg.

“Ons sit met ‘n enorme probleem. Talle DBV’s het reeds hul deure gesluit en indien ons nie vinnig ‘n plan maak nie sal ons dieselfde paadjie stap,” het hy gesê.

Hy het sy dank teenoor diegene uitgespreek wat die DBV wel ondersteun en gesê dat dit nie moontlik sou wees om vir so lank voort te kon bestaan sonder hul hulp nie. Amorim sê dat die uitstaande veeartsrekening ook direk by die veearts vereffen kan word.

Om deel te word van die Pledge a Paw-veldtog kan jou naam, kontakbesonderhede of e-posadres na 082-589-1141 gestuur word. Die DBV kan ook in Medlingerstraat besoek word of by 013-753-3582 gekontak word.

Back to top button