Local newsNewsNews

Strikdas-première geniet groot aftrek

Fliekgangers is met splinternuwe Mazda-voertuie na die teater vervoer, waarna hulle by die ingang met springmielies ingewag is

MBOMBELA – Die nuutste Afrikaanse romantiese komedie, Strikdas, se première by Southern Sun Emnotweni Hotel en Movies@Emnotweni Arena was ‘n glansryke affêre met glase wyn en luukse vingerhappies waaraan uitgesoekte BBP’s gesmul het.

Laeveldse fliekgangers kon nie vir ‘n beter geleentheid gevra het om skouers met die room van Suid-Afrika se filmbedryf te

skuur nie.

Natuurlik was die hoofspelers, Kaz McFadden en Leandie du Randt, by hierdie sprankelende rooitapytgeleentheid om hul nuwe fliek bekend te stel.

Die dames het in pragtige rokke opgedaag terwyl die mans aan hul sy met hul strikdasse en blink gepoetse skoene hul beste voetjie voorgesit het.

MUD Makeup het ook ‘n grimeerstalletjie gehad waar dames hul voorkoms met maskara, lipstiffie en blosser kon afrond.

Gaste kon vooraf uitgesoekte wyne van Vrede en Lust geniet. Die sjefs het hulle ook goed van hul taak gekwyt met heerlike vingerkos, soos lamsfrikkadelle en sjokoladebruintjies wat die wyne perfek gekomplimenteer het.

Kaz McFadden, wat Vossie speel, moes nog dieselfde aand terug Gauteng toe ry, maar het elke oomblik in Mbombela geniet. “Dis altyd vir my lekker hier. Ek geniet Innibos en kom wanneer ek kan,” het hy gesê. Leandie du Randt wat die rol van Willemien vertolk, het saam met Kaz spontaan met almal gesels en vir foto’s geposeer.

Na die afloop van dié netwerkgeleentheid kon aanhangers ook handtekeninge by hierdie sterre kry en saam ‘n foto neem wat weliswaar dadelik op sosiale media

beland het.

Toe die horlosie 20:00 slaan was almal gereed om ‘n eerste kykie van die fliek te kry. Fliekgangers is met splinternuwe Mazda-voertuie na die teater vervoer, waarna hulle by die ingang met springmielies ingewag is. In die geheel het die fliek ook goeie reaksie ontvang met die humoristiese en prettige tonele wat die gehoor behoorlik laat skaterlag het.

Strikdas is ook die eerste Afrikaanse film met wêreldwye vrystelling op Scatzy.com

 

Back to top button