AnimalsAnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Eiland-brakkie kry nuwe huis

Heuning land Saterdag op O.R. Tambo van Mauritius af.

MBOMBELA – ‘n Vyf maande oue basterbrakkie van Mauritius kom hierdie naweek in Suid-Afrika aan. Dit sal Heuning, soos sy gedoop is, een van die duurste brakkies in die Laeveld maak.

Me. Lee-Ann Joubert (29), ‘n verpleegster in Mediclinic Nelspruit se kraamsaal, het sowat R15 000 opgedok om ‘n rondloperhondjie op die eiland aan te neem en na haar huis in Mbombela te laat vervoer.
Sy het tydens die Desembervakansie in Mauritius in ‘n hotel gebly. Toe sy een aand van die eetsaal na haar kamer terugkeer, het sy ‘n eienaardige klein swart figuurtjie onder ‘n tafel naby haar kamerdeur opgemerk. Toe sy nader ondersoek instel, het sy ‘n uitgeteerde babahondjie ontdek.

“Ek het ‘n baie klein hartjie as dit by diere kom,” sê Joubert. “Dit was ‘n bloedige warm aand en ek het vir haar koue water gegee. Ek het geen kos in my kamer gehad nie, net ‘n pakkie aartappelskyfies.
“Sy het dit verslind asof sy nog nooit kos gehad het nie.”

Só het dit aand na aand aangegaan. Joubert het skelmpies kos uit die eetsaal vir die diertjie in haar kamer gesmokkel. “Die personeel het my een keer aangekeer en my gewaarsku om nie kos uit die eetsaal te neem nie, maar ek het maar aangehou.”

Joubert het soms heuning oor die kos gegooi, omdat dit gelyk het of die langbeen-basterbrakkie daarvan hou. “Sy het altyd eerste die heuning van die kos afgelek – sy was mal daaroor. Dít is hoe sy haar naam gekry het.” Joubert en haar Heuning het ‘n hegte band gevorm.

Ná twee weke op die eiland moes die sprokiesverhaal tot ‘n einde kom. Joubert kon dit egter doodeenvoudig nie oor haar hart kry om die diertjie net te los nie.
“Ek het haar na die Protection of Animal Welfare Society (PAWS), soortgelyk aan ons Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem. Hulle het my vertel dat hulle haar nie sal kon hou nie. Ek het toe maar besluit om die brakkie Suid-Afrika toe te bring.”

Heuning is reeds sedert Desember in kwarantyn in Mauritius. As deel van die emigrasievereistes, moes sy ook gesteriliseer word. “Die hele gedoente het my altesaam R15 000 gekos. Party mense noem dit waansin, maar ek sal doen wat ek kan om ‘n dier te help.”
Heuning land Vrydag op OR Tambo-lughawe. Sy sal haar by Joubert se ander twee honde en sewe katte, almal reddingsgevalle, aansluit.

Back to top button