Hard newsNewsNews

Hewige reaksie na Innibos Steve nie weer nooi

Die hele debakel rondom sy polities-sensitiewe uitlatings op sosiale media het nie net verdeeldheid onder Afrikaanssprekendes gesaai nie, maar het ook daartoe bygedra dat Afrikaans van ander kultuurgroepe in ons land vervreem word

MBOMBELA – Innibos is midde van ‘n storm wat woed op sosiale media nadat dit bekend geword het dat Steve Hofmeyr nie na hierdie jaar se KKNK op Oudtshoorn genooi is nie.

Anders as wat daar sedert November in nasionale media berig word, het Innibos se direksie eers hierdie week besluit om Steve óók nie na hierdie jaar se fees te nooi nie.

Ondersteuners van dié kunstefees, wat in 2013 die Fiësta-toekenning vir gewildste fees ingepalm het, is briesend en die meerderheid dreig om dit te boikot.

Laevelder het lesers op sy Facebook-blad gevra of hulle die fees hierdie jaar sou bywoon as Steve nié deel van die program sou uitmaak nie en het ongekende reaksie gekry. Meer as 400 Facebook-gebruikers het binne etlike ure kommentaar gelewer en bykans almal was dit eens dat, sou hul “Liefling”, “Pampoen”-sanger nie hierdie jaar sing nie, hulle nie hul voete by Innibos sou sit nie.

Dit het alles begin toe Steve “Die Stem” tydens verlede jaar se Innibos gesing het. Hy is uit verskeie oorde gekritiseer en dit is as alles behalwe bevorderlik vir rasseverhoudings beskou. Feesbestuur is nie vooraf hiervan ingelig nie en was net so verras oor Steve se liedjiekeuse.

Maatskappye het gedreig om hul borgskappe te onttrek omdat hulle nie met Steve en sy sieninge vereenselwig wou word nie. Die stof het net gaan lê toe hy getweet het dat swartmense die argitekte van apartheid was. Humeure het opnuut opgevlam en verskeie organiseerders van optredes het gedreig dat hulle Steve sou belet om daar te kom sing.

KKNK het verlede week aangekondig dat hulle hom nie gaan nooi nie en daar is berig dat hulle Innibos se voorbeeld volg. Laasgenoemde sou egter eers vroeg in Februarie finaal dié besluit neem, maar die direksie het toe hierdie week vergader waarna die besluit Woensdag bekendgemaak is. Albei feeste kry reeds die wind van voor. Daar is ‘n “Boikot Absa KKNK en bedmaats”-groep op Facebook gestig waarvan daar reeds meer as 7 000 lede is en ‘n “Geen Steve, geen Innibos”-groep is kort hierna op die been gebring.

Me. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, het by navraag gesê dat hulle nie kan toelaat dat enige kunstenaar hul verhoë misbruik en teenstrydig met hul visie en missie optree nie.

“Die fees is bedoel vir kulturele vermaak en nie vir politiek nie. Steve verpolitiseer kultuur en het dit duidelik gemaak dat niemand hom sal voorskryf wat hy op ‘n verhoog mag en nie mag sê of sing nie.

“Die hele debakel rondom sy polities-sensitiewe uitlatings op sosiale media het nie net verdeeldheid onder Afrikaanssprekendes gesaai nie, maar het ook daartoe bygedra dat Afrikaans van ander kultuurgroepe in ons land vervreem word.

“Innibos Nasionale Kunstefees wil dit duidelik stel dat ons niks teen Steve as kunstenaar het nie. Innibos is ‘n Afrikaanse kunstefees wat hom ten doel stel om taal en kultuur te bevorder. Die fees het die afgelope 11 jaar ‘n belangrike rol in die Laeveldse gemeenskap gespeel om nie net kuns en kultuur te bevorder nie, maar ook kulturele brûe te bou. Die fees het ook ‘n geweldige ekonomiese impak teweeggebring waaruit alle gemeenskappe voordeel getrek het.

“Ons glo dat ons feesgangers die vreugdevolle ervaring van die afgelope 11 jaar se feeste sal onthou en dat hulle Innibos sal bly ondersteun.”
Van die kommentaar op Laevelder se Facebook-blad, sluit in:

Ten gunste van Innibos
• Jacqueline Weideman: “Ek is mal oor Steve, maar hy is nie die enigste Afrikaanse sanger nie. Die ander moet ook ‘n kans gegee word. Kyk bietjie verby die politiek want dis orals, selfs in ons huishoudings soms. So nee, ek sal hulle nie boikot nie. Elke jaar moet iets anders gebeur en Steve was mos nou al ‘n hele paar keer by Innibos. Gee die ander nou ‘n kans. Innibos, dankie vir als wat julle doen – dit gee Nelspruit bietjie ‘n boost!”

• Judy Badenhorst de Villiers: “Hoekom sal ek die fees boikot? Steve is mos nie begin en einde van Afrikaans nie. Ek gaan mos nie Innibos toe om hom te sien nie, ek gaan fees toe om in my taal te kuier en my Afrikaans-wees uit te leef.”

• Thea Delport van Zyl: “Ek self was nie by die vertoning nie, maar het wel na ‘n video-opname gekyk en geluister. In konteks met wat Steve voor die sing van die ‘volkslied’ geuiter het, wil dit vir my voorkom asof hy blatant moeilikheid en reaksie gesoek het! En dit is nie vir my aanvaarbaar nie. Ek sal beslis die fees bywoon.”

• Marthinus Nothnagel: “Ek sal daar wees. Sal lekker wees om na musiek te luister sonder om na ‘n politieke gesprek te luister. Ek stel net so min belang in Steve se sieninge oor SA as wat ek in Malema se sieninge belangstel. Kom ons luister goeie Afrikaanse musiek. Dalk kan ons vir daai paar uur vergeet van die snert wat aangaan in SA.”

Teen Innibos
• Stephanie Le Hanie: “Ons sal dit nie bywoon nie. Ek staan verstom oor die belaglikheid oor die bohaai van ‘Die Stem!’ Dit is tog steeds deel van ‘Nkosi Sikelel iAfrika!’ Hoekom moet Steve vervolg word omdat hy dit wil sing? Ons mag ook seker nou nie meer ‘Vanaand gaan die volkies koringsny’ sing nie, want dit is te na aan die waarheid al is dit deel van ons kultuur en ons geskiedenis… Ons skool se musiekfees het ook heeltemal doodgeloop toe hy nie meer opgetree het daar nie.”

• Jacques van der Watt: “Vra julle nog… Boikot verseker! Wat het geword van vryheid van spraak? Wens meer Afrikaners wil opstaan vir ons geskiedenis en wat na aan ons hart is.”

• Selma Theron: “Ek gaan definitief nie as Steve nie mag kom nie. Dit is ‘n baie ernstige beginselsaak. Steve mag nie ‘Die Stem’ sing nie, maar elke janrap en sy grapmaker mag hul liede in hul taal sing. Se dinges. Ons is Afrikaans en regtig trots daarop. Hoekom moet ons bly verskoning vra? Ek gaan nie as Steve nie mag kom nie en ek sal sorg dat almal wat soos ek voel daarvan hoor.”

• Rose-Mare Pretorius: “Ja ek sal Innibos boikot. Die mense moet ophou om huigelaars te wees. Steve staan op vir sy land, Afrikaans en die behoud van Afrikaans. Dis waar dat ander kunstenaars ook gegun moet word om daar te wees, maar Steve trek altyd groot gehore en is dit nie waaroor die fees eintlik gaan nie?”

Back to top button