Local newsMandela DayNewsNews

Pastoor plant tamaties vir Mandela Dag

Die Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) het aan die begin van die jaar met 'n groentetuinprojek begin. Sakke van amper 20 liter tamaties is Dinsdag vir die vierde keer vanjaar gepluk.

MBOMBELA – Om met jou mandjie tuin toe te stap en die mooiste klein tamaties met hul songebakte rooi skilletjies uit te soek, is een van die lewe se groot lekkertes.

Die Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) het aan die begin van die jaar met ‘n groentetuinprojek begin. Sakke van amper 20 liter tamaties is Dinsdag vir die vierde keer vanjaar gepluk.

“Die Here bewaar ons tuin. Ons het nog geen skilletjies langs die bandebeddings gekry wat tekens is dat muise of ander klein diertjies die groente vreet nie,” het die besturende direkteur van die Mpumalanga Leadership Foundation, past. TJ Maré gesê.

Die klein ronde groente is baie sappig en word by die forum gebruik om stowegeregte ‘n heerlike smaak te gee.

“Hulle word nie met gifstowwe gespuit nie en het nie daardie suur smaak nie.”

‘n Oop stuk grond op die hoek van Potgieter- en Nelstraat langs Lowveld Hospital is aan die Nelspruit Gemeenskapforum (NGF) beskikbaar gestel om met dié projek te begin.

Maré se twee helpers, Thato Hanong en Seldi Ndlovu wat lede van die forum is, het die tamaties gepluk en die groter bande teen die walletjie gepak om gronderosie te voorkom. Groente soos spinasie, kool en uie gaan nie in bande geplant word nie omdat ‘n besproeiingstelsel nie daarin gaan werk nie. “Ons gaan eerder ‘n sloot grawe en ‘n drupstelsel insit.

“Dan kan die groente op ‘n gereelde basis genoeg water kry.” Die gemeenskap kan gerus ander groentepitte en -saad soos pampoen aan die NGF skenk.

Ons herdenk vandag Nelson Mandela se 96ste geboortedag. Hy is verlede jaar vroeg in Desember oorlede en ter nagedagtenis aan hom, staan 18 Julie bekend as Mandela-dag.

Op dié dag word nie net Suid-Afrikaners nie, maar ook die res van die wêreld aangemoedig om 67 minute van hul tyd aan die samelewing terug te gee, hetsy deur betrokke te raak by opvoeding, dienste of infrastruktuur (Mandela het sedert 1942 vir 67 jaar lank vir menseregte in SA geveg).

‘n Groep studente van die President’s Awards bedien vanoggend ‘n heerlike ontbyt vir die behoeftiges by die NGF.

Daarna gaan hulle in die middedrop invaar en dit skoonmaak. Ocean Basket gaan vir middagete 67 maaltye bedien.

Die forum nooi vrywilligers wat nie weet wat om vandag te doen nie, uit om hulle te kom help om die stad ‘n beter plek te maak.

Back to top button