Editor's noteOpinion

Pastoor André Myburgh se dood: staak nou die aanvalle

Nieteenstaande dit wat gebeur het, moet die gemeenskap nie aanhou om mekaar te oordeel nie maar eerder die lesse wat uit hierdie tragedie te leer is, ter harte neem

Ek is al byna 23 jaar in hierdie nuuskantoor. In hierdie tyd is daar enkele stories wat ek kan onthou asof dit gister gebeur het.

Dit is daardie stories wat die hart van ons gemeenskap geruk het: vyf sakevroue wat verongeluk het, sewe kinders wat doodgebrand het in ‘n motorongeluk, en ‘n tragedie toe ‘n pa sy eie kind per ongeluk doodgeskiet het.

Dit is stories wat vrae laat ontstaan… ‘n Storie soos die selfdood van pastoor André Myburgh wat ‘n byna onverklaarbare gebeurtenis is. Sy familie, vriende en gemeente asook die breër gemeenskap is stomgeslaan dat hierdie sterk man kon knak. Vele sê, “Maar ek het hom verlede week gesien en kan nie dink dat hy so iets sou doen nie”, of “Maar hy het ‘n kleinkind op pad”, of “Hy het al soveel ander uit die gat gekry, hoe is dit moontlik dat dit kon gebeur?”

Ek glo nie daar is antwoorde op hierdie vrae nie. Pastoor Myburgh was ook net ‘n gewone mens. Iemand wat ook hartseer en blydskap beleef het. Inteendeel, hy het elke dag van sy lewe swaar aan die laste van ander gedra en moes die lig in donker tye bring.

Op die sosiale webwerwe is daar soveel getuienis oor sy lewe, baie wat hom lof toeswaai vir hoe hy hul lewens geraak het, baie wat hom bedank dat hy hul lewens gered het. Pastoor Myburgh was ‘n man wie naam in die Boek van die Lewe opgeteken is. Ek het hom nie goed geken nie, maar talle van my vriende het noue bande met hom gehad en was gebroke toe die nuus bekend geword het.

Maar daar was die ondersoek – die oorsaak van sy uiteindelike dood. Die aanloop tot die donkerste dag in sy lewe was die maande wat hy met ‘n swaard oor sy kop rondgeloop het. Dié naaste aan hom, het elke dag gesien hoe hy kwyn en onder die druk begin swig. Hulle het die impak van verwerping voor hul oë sien gebeur.

Pastoor Myburgh kon nie glo dat sy gemeente hom veroordeel het voordat die waarheid onbloot was nie. Hy was verslae as hy in ‘n inkopiesentrum gestap en bekendes hom aangegluur het.

Na 25 jaar se bediening het hy aanvanklik geglo dat mense in sy integriteit en onskuld sou glo, maar moes gou die realiteit in die gesig staar dat die mag van duisternis die groot gevaar is. Die pen het ‘n tweesnydende swaard geword. Daar is steeds mense in die gemeenskap wat hul stem dik maak oor die sogenaamde ongerymdhede. Maar is dit nie nou tyd om die aanvalle te staak nie? ‘n Eggenoot, pa en oupa is dood.

Nieteenstaande dit wat gebeur het, moet die gemeenskap nie aanhou om mekaar te oordeel nie maar eerder die lesse wat uit hierdie tragedie te leer is, ter harte neem. Ons kan so dikwels ingetrek word by sake wat ons eintlik nie aangaan nie. Die uiteinde van alles die afgelope paar maande is ‘n kerk wat in twee geskeur is, baie mense wat van God se weë afgedwaal het en die mag van duisternis wat ‘n slag geslaan het. Daar was tydelik net een wenner – Satan.

Maar die pad vorentoe moet nou met God se genade en liefde aangepak word sodat die gemeente weer sy kop kan lig en vrede kan bewerkstellig. In Romeine 14:19 lees ons: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien”. In Efesiërs 4:32 staan geskryf: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle vergewe”.

Almal gaan betrokke moet raak by genesing en dit kan net deur vergifnis gebeur. Daar gaan versoening moet plaasvind en dit gaan nie help om kwaad met kwaad te vergeld nie. Deur te vergewe sal God se liefde en vergifnis geopenbaar word. Ons moet doen wat God van ons verwag.

Die bande van liefde en broederskap sal herstel moet word sodat die siele genesing kan ervaar. Bly weg van euwels soos sosiale media waar mense so maklik sout in mekaar se wonde kan vryf.

Gister, met pastoor Myburgh se begrafnis, was die eerste stap van genesing vir die Communio-gemeente wat eens
3 000 siele sterk was.

Laat die groot Geneesheer toe om sy werk te doen.

3 Comments

  1. Irma, hierdie artikel is een van die beste artikels wat ek gelees het.. Dis so positief! Baie dankie daarvoor ….

Back to top button