CrimeEditor's choiceNews

Man moet 14 jaar sit na hy swartrenosters stroop

Hy moet die twee vonnisse vir die twee renosters samelopend uitdien

NELSPRUIT – ‘n Man wat in Januarie ‘n swartrenosterkoei en haar kalfie in die wildtuin doodgemaak en onthoring het, is Donderdag 14 jaar tronkstraf in die plaaslike streekhof opgelê.

Leonard Mhlongo (21) het die staat se werk aansienlik makliker gemaak deur op die aanklagte teen hom skuldig te pleit. Dit is hoekom die saak so vinnig afgehandel is. Leonard en Kenneth Sibiya (28) is op 19 Januarie by Tshokwane in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vasgetrek. Leonard het drie renosterhorings in sy besit gehad en die onthoringde karkasse van ‘n swartrenosterkoei en haar kalfie is kort hierna in die omgewing gekry. Die kalfie het net ‘n stompie gehad, maar is nie ontsien nie.

Leonard is nooit borg toegestaan nie omdat hy nie ‘n paspoort kon toon nie. Kenneth het wel borg gekry en het nooit teruggekeer vir sy verhoor nie. Daar is tans ‘n lasbrief uit vir sy arrestasie. Leonard het skuldig gepleit en gesê dat ‘n derde verdagte die vuurwapen waarmee die renosters geskiet is, by hom gehad het. Dié kon daarin slaag om die dag van hul arrestasie daarmee na Mosambiek te vlug.

Leonard is op twee klagtes van onwettige jag in die wildtuin asook die onwettige betreding daarvan, aangekla.

Die landdros, mnr. Eddie Hall, het sy skulderkenning bekragtig en hom gevolglik 10 jaar tronkstraf vir die onwettige jag van die koei, asook ‘n verdere agt jaar vir die kalfie opgelê. Hy het geëis dat dit samelopend uitgedien moet word. Leonard is ook ‘n verdere vier jaar vir die onwettige betreding van die wildtuin opgelê.

Maj. genl. Johan Jooste, wat aan die stuur staan van teenstropings-operasies in die wildtuin, het die senior-staatsadvokaat, me. Isabet Erwee, asook die polisie se ondersoekbeamptes, met dié goeie vonnis gelukgewens.

“Ek wil ook my eie span gelukwens met hul aandeel in die arrestasie. Ons gaan hierdie oorlog wen en verwelkom sulke verwikkelinge,” het hy gesê. Hy het ook samewerking deur Mosambiekse owerhede verwelkom.

Back to top button