Local news

Hierdie Laevelder is ‘n pure Pumas-ondersteuner

Jy gaan hard soek om ‘n meer getroue Pumas-ondersteuner as Pippa Botha te kry. Sy dra haar Pumas-pienk met trots en vertel aan Laevelder hoekom ander ook so moet maak.

Dis altyd lekker om te sien hoe ‘n gros Pumas-ondersteuners by die Mbombela Stadion instroom. Groot, klein, oud en jonk.

En dan is daar natuurlik ook dié wat hul eerste Airlink Pumas-wedstryd kom kyk. Maar dan kry jy natuurlik diegene wat wedstryd na wedstryd hul plek in die skare bespreek het. Die kanniedoods. Die bittereinders.

Een só ‘n ondersteuner is Pippa Botha.

Sy het met Laevelder gedeel hoekom dié pienk span nou heel bo-aan haar lysie is. “My dogter het in 2012 vir die Pumas vir die destydse bemarkingsbestuurder, JayJay Botes, gewerk. Ons het die wedstryde begin kyk, en dit was lekker om dit in ons eie dorp te kan doen. Ons het toe al nie ‘n wedstryd gemis nie,” kom dit van Botha.

“Die Pumas is ons ‘manne.'”

Met dié dat sy en haar man, Pieter Botha, so te sê permanente kaartjiehouers by die stadion was, het hulle ook destyds sommige van die spelers beter leer ken en bevriend. Dit is toe dat Botha besluit het dat die Pumas ‘n trotse Laeveld-produk is, wat verdien om gedeel te word.

“Ek het my uiterste gedoen om die Pumas by plaaslike geleenthede betrokke te kry en aan die gemeenskap voor te stel,” het sy gesê. Botha was destyds op die CANSA Relay for Life-komitee betrokke, asook die Pro-Life-komitee.

LEES OOK: ‘n Oupa, pa en SANParke-kollega duisend word onthou ná seekoei-aanval

Sy vertel ook dat een van haar grootste Pumas-oomblikke juis geskoei is op hul gemeenskapsbetrokkenheid.

“Vir my man sal dit maklik wees – toe hy na die 2022-Curriebekeroorwinning in die Pumas-kleedkamer saam met die manne uit die beker kon drink. Ek dink dit was vir hom beter as ons troudag!” skerts sy. “Maar ek dink my Pumas-oomblik was aan die einde van die Survivors Lap by die CANSA Relay for Life in 2015, toe die spelers vir die kankeroorwinnaars hul medaljes oorhandig het. Daar was seker so 15 tot 18 ouens daar, en elkeen van hulle was so eerbiedig en sagkens. Dit het my hart totaal en al gesmelt. Dit was my beste ervaring as ‘n Pumas-ondersteuner.”

Vir haar is die Pumas nie alleenlik net ‘n spul mans wat ‘n eiervormige bal rondgooi nie. Hulle is méér as ‘n span. Hulle is deel van die plaaslike gemeenskap.

LEES OOK: Motorcycle catches fire in Sonpark accident

“Die Pumas-bestuur, die spelers en hul gesinne is deel van die Laeveld. Hulle woon hier, spandeer hul geld hier, en ondersteun graag ook die besighede wat hulle weer ondersteun.

“Ek glo régtig in plaaslik ondersteun. Dit is vir my ‘n belangrike prinsiep in alle aspekte van my lewe. Ja, die Pumas kan ongelooflike publisiteit bied, maar daardie sales pitch laat ek maar aan Coach Jimmy oor.

“Maar hulle belê in ons as die Laeveld. Ons moet in hulle óók belê. Die spelers kan net hier bly indien ons hulle mededingende pakkette kan aanbied soos wat die groter rugbyunies doen. Baie van die oudspelers is hier gevestig, het hier getrou, hulle kinders gaan nou hier skool en hulle werk in plaaslike besighede. Hulle is werklik ‘ons mense’, maak nie saak waar hulle begin het nie,” vertel Botha.

Sy maan ook ander ondersteuners van dié span om moeite met die Pumas te doen.

“Mense moet hulle na funksies toe nooi om hulle ‘n deel van die gemeenskap te maak. Jy wat hier lees kan ‘n verskil maak. Al koop jy net ‘n kaartjie om die wedstryde te kyk. Dit is alreeds ‘n begin. Die Pumas het die Laeveld net weer op die map gesit wat rugby betref – ons móét hulle ondersteun.”

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se mooistes tydens glansaand gekroon

Jy gaan hard soek om ‘n meer getroue Pumas-ondersteuner te kry. Met ‘n kas vol Pumas-pienk kledingstukke en ‘n rits buskaartjies en brandstofrekeninge na en van wedstryde af, is dit duidelik dat Botha tot die uiterste vir haar span sal gaan.

“Ek twyfel of daar ‘n Laevelder of ‘n Suid Afrikaanse rugbyondersteuner is wat nie al die Pumas-handelsmerk herken nie. Dit is ‘n handelsmerk wat ek met trots en liefde dra. Ons Pumas is ambassadeurs vir die Laeveld, waar hulle ook al gaan. Ek sal met trots my naam met hulle vereenselwig.”

Back to top button