Local news

Hoërskool Nelspruit se mooistes tydens glansaand gekroon

Kleurvolle aandrokke en statige aandpakke het op die loopplank gepryk tydens Hoërskool Nelspruit se jaarlikse Mnr. en Mej. NHS. Safari Outdoor was die hoofborg van dié aand.

Bo en behalwe die revueproduksie en matriekafskeid, bied Hoërskool Nelspruit jaarliks nóg ‘n glansgeleentheid aan: Mnr. en Mej. NHS.

Dié jaar se kompetisie het Dinsdagaand, 15 Augustus, op ‘n hoë noot afgeskop toe die gaskunstenaar, die bekende Afrikaanse sanger, Bok van Blerk, ‘n draai op die verhoog kom maak het. Van Blerk het die opskop behoorlik aan die gang gesing en die atmosfeer vir die res van die aand gevestig.

Die 10 paartjies het voor ‘n uitverkoopte ouditorium elk hul weergawe van een van die aand se hoofborge se advertensies opgevoer. Die opvoerings het die gehoor dubbeld laat vou soos hulle lag, soms lekker saam laat dans, en by tye kon jy die ge-oe en ge-aa van hul kant af hoor.

LEES OOK: Ringbal is in dié Laevelder se bloed

Met die ‘advertensies’ het die gehoorlede en die beoordelaars die geleentheid gekry om die deelnemers se persoonlikhede te sien.

Na ‘n kort pouse en nog ‘n klomp liedjies deur Van Blerk, was dit uiteindelik tyd vir die deelnemers om in hulle formele drag op die verhoog te pronk.

Kleurvolle aandrokke en statige aandpakke het op die loopplank gepryk. Daar was nie een haartjie uit plek uit nie, en almal het seker gemaak om hul beste voetjie voor te sit.

Die beoordelaars, Neïl Venter, Charlien Lourens, Jacques Lombard, Cornelia Basson en Lynmarie Griffioen, het omtrent kopgekrap om te besluit watter van dié 20 deelnemers met die louere sou wegstap.

LEES OOK: Obstacle courses pose no obstacle to these racers at all!

Nadat Mnr. en Mej. NHS van 2022, Zander Schoeman en Zoë Scheepers, hul finale draai op die loopplank gemaak het, het Van Blerk die volgende pryswenners aangekondig:

 Mnr. en Mej. Persoonlikheid:
Christiaan van Deventer en Amoré Gerber
• Debutant van die jaar:
Liemoni Joubert
 Mnr. en Mej. Fotogenies:
Jon Grobler en Demi Plath
• Tweede prins en prinses:
JV Breytenbach en Liemoni Joubert
• Eerste prins en prinses:
Liam Pringle en Lindré Steenkamp
• Mnr. en Mej. NHS 2023:
Luhan van Wyk en Leané Nel.

Vanjaar se kompetisie is in samewerking met Safari Outdoor aangebied.

Back to top button