Local newsSport

Nóú spog hierdie trofee eindelik in Barberton Rugbyklub se kas

Die span van Barberton het die verdedigende kampioene, Sasol Secunda Grip & Rip, verlede Saterdag, 5 Augustus, in die Mpumalanga Premierliga rugbyfinaal die stryd aangesê. Barberton het met 19 punte teenoor 18 geseëvier.

Vir die eerste keer in sewe jaar is daar ‘n ander Mpumalanga-rugbykampioen gekroon.

Na 80 minute propvol kompeterende rugby, het Barberton Rugbyklub as wenners uit die stryd getree om die verdedigende kampioene, Sasol Secunda Grip & Rip Rugbyklub, op Saterdag 5 Augustus te onttroon.

Die telbord het 19-18 in die guns van die tuisspan gelees. Met dié wen het Barberton sy naam in die geskiedenisboeke verewig.

LEES OOK: Die Pumas spog met hul eie nommer 23

Hy het iets reggekry wat nie eers Witrivier, Middelburg óf Witbank kon nie: om Secunda in die eindstryd van die Mpumalanga Rugbyunie Primierliga te klop!

Barberton se losskakel, Wilmaure Louw, het in die doodsnikke van die kragmeting met ‘n briljante skepskop geslaag om sy span se noue oorwinning te verseker.

Die wedstryd het stadig begin, en was heel gebalanseerd wat die balbesit betref.

Barberton se pak voorryspelers het 5 Augustus Secunda op Coronationpark behoorlik ore aangesit deur die vaste fasette klinies te oorheers. Foute van die tuisspan se kant het hulle duur te staan gekom, en ‘n swak uitgevoerde duikslag het toegelaat dat Secunda die eerste drie van die wedstryd aanteken. Die rustydtelling was 8-6 in Secunda se guns.

LEES OOK: Young Tubatse farmer excel in poultry and crop farming

Die verdedigende kampioene het met vernuwe veggees vir die tweede helfte op die veld gedraf, en hierdie keer het húlle ‘n paar vrae van Barberton gevra. Goeie verdediging deur beide spanne het die wedstryd se tempo stadiger gemaak.

Na 78 minute het Secunda nog steeds die oorhand op die telbord met 18 punte teenoor 11 gehad. Neil de Wit het egter vir Barberton vyf punte op die telbord gevoeg. Die doelskop was net links van die pale verby. Op hierdie stadium van die stryd het die telbord op 18-16 gestaan. Met een minuut oor is ‘n strafskop is aan Barberton toegeken. Die manne was lus om nog ‘n drie te druk, en het die bal uitgeskop.

LEES OOK: North Wester wins 2023 Mbombela Open title

Hulle het die lynstaan gewen, die bal ingespeel middelveld toe, Louw gevind, en met ‘n skepkop ‘n verdere drie punte aangeteken om die wedstryd te wen.

Mark Pretorius, Barberton se kaptein, het ná afloop van die wedstryd die gemeenskap, klubbestuur, hul afrigter en sy span bedank. “Ek is baie trots op my broers wat hierdie hele seisoen hul liggame op die spel geplaas het, en dat hulle tot op die laaste sekonde van die seisoen volgehou het. Ek salueer julle.”

Nie net is dié span as die bestes in die Laeveld gekroon nie, maar nou spog die provinsiale titel ook netjies in hul trofeekabinet.

Johan Kruger van Secunda probeer Barberton se heelagter, Cassie Jansen, plattrek. > Foto: Hennie Homann

Back to top button