Local news

Laerskool Laeveld groet ‘n legende na 36 jaar

Judy van Dijk het beslis in 36 jaar haar merk op dié skool afgedruk, en laat diep spore in beide die personeel en leerders se lewens na.

Op 25 April het Laerskool Laeveld nóg ‘n groot totsiens gehad om te sê.

In 1988 het Judy van Dijk by Laeveld se deure ingestap. As jong onderwyser moes sy omtrent bontstaan as vakhoof van Afrikaans en lewensoriëntering, as die netbalorganiseerder en sportafrigter, en selfs met kultuur.

Sedert haar aanstelling het sy onder en saam met vyf skoolhoofde gedien, waarvan sy drie se regterhand in die adjunkhoofkantoor was. Van Dijk het gesorg vir ‘n onoorwonne o. 13-netbalspan by die skool en kan ook spog met 17 verspringatlete wat sy na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vergesel het.

LEES OOK: Arno Carstens enchants Lowveld audience

“Soms het ek baie groot gedroom, maar ek het gesorg dat my drome waarhede word, en daarom is ek so dankbaar vir al die ondersteuning deur die jare,” het Van Dijk gesê.

Na 36 aksiebelaaide jare by Laerskool Laeveld, vele suksesse en mislukkings, is Van Dijk ‘n lewende voorbeeld van iemand wat dié skool se leuse uitleef: “Een lewe, leef dit.”

By die afskeidsfunksie vir haar het Niël Jacobs, Laerskool Laeveld se hoof, haar geprys dat sy haar vaardighede en begrippe mildelik uitgedeel het. “Judy het daagliks haar werk ingeskoffel by die voorsienigheid en unieke plan wat God in haar lewe laat uitwerk het. Sy het elke taak tot die beste van haar vermoë en ons leerders se vermoëns aangepak. Sy het nooit geskroom om te gee nie,” het hy gesê.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit betower met ‘n musiekreis deur tyd

“Sy het ons en die leerders van Laeveld geleer van ‘ons is ‘n omgeeskool’.”

Van Dijk vertel dat sy na haar jare by die skool sal terugkyk met ‘n glimlag en geen berou. “Die vreugde van onderwyser-wees by Laerskool Laeveld is voorwaar waar. Ons skool en ons kinders se belange is vir ons prioriteit. Hier deel ons in mekaar se vreugdes en ondersteun mekaar ook in moeilike tye. Dit was elke dag vir my lekker om na my werksplek toe te gaan,” het sy gesê.

“By Laerskool Laeveld het ek geleer om diensbaar te wees. Hier kon ek my passie vir kinders volkome uitleef! Ek het geleer dat ek ‘n positiewe verskil moet maak waar ek betrokke is.”

Wat aftrede betref, sê Van Dijk dat dit nog soos vakansie voel en nie soos die werklikheid nie, maar sy voeg ook by dat sy uitsien na die rustiger lewe saam met haar hartsmense. “Ek het geleer uit gister, ek lewe vir vandag en ek droom vir môre!”

LEES OOK: Corné Fourie hooks his 100th cap for the Airlink Pumas

Sy sê ook dat sy die tyd op haar hande gaan gebruik om haar man, Christo, te ondersteun nes hy die afgelope 38 jaar (wat sy in die onderwys was) gedoen het.

Jacobs het dit die beste gestel toe hy sê: “Onderwysleiers se ware nalatenskap is juis gevestig in die mate waartoe hulle ander bemagtig, laat groei en ontwikkel. Ons word gebeitel en gebrei vir ons rol in die samelewing. Judy het nooit ophou om te deponeer in ons elkeen se lewens nie. Haar manier waarop sy daagliks te werk gegaan het, laat ‘n lewenslange invloed op ons denke en optrede.”

“Jou nalatenskap sal nog lank tot seën van Laeveld bly voortleef.”

 
Back to top button