Local sport

Hoërskool Nelspruit betower met ‘n musiekreis deur tyd

Dié skool se revue-produksie was hierdie jaar beslis weer, net soos die naam sê, 'n tydlose affêre.

Aeternum, Hoërskool Nelspruit (NHS) se revue-produksie, het Saterdag 13 Mei met ‘n gala-aand op ‘n hoogtepunt geëindig.

Hierdie twee uur lange vertoning het die gehoor op ‘n reis deur tyd geneem.

Aeternum: vier dekades van musiek, ‘n ewigheid van die mooiste melodieë. Alles in tyd vasgevang.

Die programleiers, Ronel Basson en Divan de Kock, het vertel dat die eerste glansgeleentheid in 1996 aangebied is. Hierdie is dus NHS se 27ste suksesvolle spogproduksie.

Hierdie jaar se nostalgiese terugblik begin met Ester de Kock se weergawe van “Turn Back Time”. Daarna het die sjarmante Berno Venter lewe gegee aan “Midnight Special”.

LEES OOK: Mpumalanga High Court sentences sisters’ murderer to two life terms

Treffers soos “Swart koffie” (gesing deur Nina Prinsloo), “Valerie” (gesing deur Michelle de Lange), “Paint My Love” (deur Andrich Eloff) en “Juliet” (Luhan van Wyk) het die hartsnare geroer en die gehoor op die punt van hul stoele gehad.

Die gr. 12’s het hierdie jaar hul buiging gemaak met die bekende lied van die 80’s-trefferfilm Dirty Dancing: “(I’ve Had) The Time of My Life”. Vier van hierdie jaar se soliste (Ester, Andrich, Neelsie van Dyk en Berno) het vir die vyfde keer aan die revue deelgeneem. Neelsie sing ook in hierdie produksie die bekende “Voshaarnooi” – wat
ook die liedjie was wat hy in gr. 8 vir sy oudisie gesing het.

LEES OOK: Dubbele rugbysege vir dié Laeveld boeties

Nóg ‘n hoogtepunt van die revue was vir seker die dansers. Terwyl Marnieke Pretorius die klavier speel en ‘n stadige weergawe van “Simply the Best” sing, is dit Amoré Gerber en Janco Labuschagne, Zané du Toit en Luhan wat onbeskryflik op die maat van die musiek dans.

Later in die vertoning is dit Ané Niehaus wat ‘n solodans doen terwyl Neelsie “Candle in the Wind” sing. En dan – die oomblik wat min sal vergeet – Mické Botes wat van ‘n stoel af in Luhan se arms in spring.

Die dansers was energiek en passievol, van die begin van die vertoning tot aan die einde.

LEES OOK: Sharks’ fan from Malalane becomes famous overnight

Daar is gedurende die aand spesiale melding gemaak van Ezette Mans, wat al vir ‘n dekade lank die organiseerder van die revue is.

“Ons is ook baie opgewonde om te deel dat hierdie produksie eersdaags op YouTube beskikbaar sal wees. Te danke aan TWK Versekering en Phonix Capture is die produksie opgeneem en sal dit vir die eerste keer beskikbaar gestel word vir almal om te sien.

LEES OOK: Spiere bult tydens Underdog Nelspruit se tweede kompetisie

“Hoërskool Nelspruit is baie dankbaar vir elke borg wat by hierdie geleentheid betrokke was. Sonder borgskappe is dit nie moontlik om so ‘n groot produksie op die planke te bring nie.

“In geluk of teëspoed, hartseer of kwaad, sal musiek altyd bly. Vir altyd en konstant, Aeternum.”

 

 
Back to top button