Local news

Spiere bult tydens Underdog Nelspruit se tweede kompetisie

Om aan die nasionale kragoptelkampioenskappe te kan gaan deelneem, moet daar aan sekere standaarde voldoen word. Een so 'n kwalifiserende kompetisie is op 13 Mei in die Oewersig-saal gehou.

Nuwe tipe kragte is die naweek gemeet.

Nie dié van spanne op die rugbyveld of teenstanders op die netbal- of tennisbane nie, maar eerder dié in The Underdog Powerlifting-kompetisie.

Die Oewersig-saal was Saterdag gevul met pure spiere wat gebult het en gesigte waarop die uithouvermoë gespeel het soos wat die mans en vroue in die verskeie gewigsklasse meegeding het vir kwalifisering om aan die nasionale kragoptelkampioenskappe later vanjaar in Kaapstad te gaan deelneem.

LEES OOK: Dubbele rugbysege vir dié Laeveld boeties

Raymond en Chanté Waters is die dryfkrag agter The Underdog Powerlifting-kompetisie. “Ons het verlede jaar ons eerste byeenkoms gehou, en hierdie jaar weer ene,” het Chanté gesê. Die paartjie vertel dat hulle met die kompetisie meer blootstelling aan die sport wil gee. “Mense ken dit nie regtig nie,” kom dit van Raymond. “Hoe meer ons mense kan blootstel, hoe beter en hoe sterker kan die sport word.”

The Underdog Nelspruit val onder die oorhoofse kragoptelliggaam in Suid-Afrika, die Rhino Powerlifting Club. Klubs soortgelyk aan The Underdog Powerlifting hou kragoptelkompetisies regoor die land om sodoende te kan identifiseer wie hul provinsies by die nasionale kampioenskappe gaan verteenwoordig.

LEES OOK: KaNyamazane family members of slain sisters share how death has impacted them

“Daar is ‘n kwalifiseringstandaard,” het Raymond gesê. “Jy mag dalk in hierdie kompetisie gewen het, maar jou standaard moet goed genoeg wees om te kwalifiseer.” Mans en vroue neem in die verskeie geslagskategorieë deel en word ook onderskei op grond van hul gewig en ouderdom.

Wat Saterdag se byeenkoms betref, sê Chanté dat hulle baie tevrede is met hoe die dag verloop het en dat hulle baie positiewe terugvoer ontvang het. “Daar is definitief potensiaal vir groei, maar vir ons was hierdie een ‘n groot sukses gewees.”

LEES OOK: Sharks’ fan from Malalane becomes famous overnight

Die name van dié wat gekwalifiseer het, is nog nie beskikbaar nie. Die totale punte van die deelnemers se beste hurksit-, borsopdruk- en dooigewigoptelpogings in ooreenstemming met die gewigsklas word opgetel, en daarvolgens word daar besluit of die persoon kwalifiseer, al dan nie.

“Kragoptel gee mense ‘n doelwit om voor te werk en help hulle om keer op keer te verbeter.”

“Ons wil ook net vir al ons borge dankie sê vir die bydrae wat hulle gemaak het, en dat hulle dit moontlik gemaak het vir ons om soveel te kon bereik en die dag vir die lifters moontlik te maak.

“Ons sien uit na volgende jaar en vir nog baie suksesvolle byeenkomste wat voorlê.”

Back to top button