Local newsSport

Dubbele rugbysege vir dié Laeveld-boeties

Beide Quinn en Chyle van Zyl se rugbyspanne het bo aan die punteleer in hierdie jaar se Varsitybeker-reeks geëindig, iets wat nie algemeen in dié reeks se geskiedenis is nie.

Dit is nie aldag dat twee broers twee van die mees gesogte trofeë in die universiteitsportmilieu met slegs ‘n week tussenin hul kragmetings lig nie, maar vir dié twee het die sterre opgelyn in die 2023 Varsitybeker-reeks.

Chyle (22) en Quinn (19) van Zyl is Laevelders in murg en been en het beide hul laer- en hoërskoolloopbane by Laerskool en Hoërskool Nelspruit voltooi.

Die twee broers speel onderskeidelik in hul derde en tweede seisoene vir die Noordwes-Universiteit (NWU) se Varsitybeker en Varsitybeker Young Guns-rugbyspanne.

LEES OOK: Pumas narrowly lose to a Sharks victory in Mbombela

Buiten dat hulle die pers- en turkooiskleure van die NWU oor hul koppe trek, lig beide van hulle ook die silwerware van dié jaar se toernooie omhoog!

Na ‘n suksesvolle veldtog het Chyle en sy span die Ikeys van die Universiteit van Kaapstad met 27-25 op tuisbodem in Potchefstroom uitoorlê, om dié beker vir slegs die tweede keer in die universiteit se geskiedenis te lig. Die laaste keer wat die NWU Arende dié titel gewen het, was sewe jaar gelede in 2016.

“Toe die game so tight was in die 70ste minuut, het die 2014-finaal deur my kop gegaan, maar ons het net aanhou glo. Dit het gewys toe die eindfluitjie blaas, en dis ‘n onbeskryflike gevoel wat ek vir altyd by my sal dra,” het Chyle gesê.

LEES OOK: Die Vlammies se vure brand helder en hoog na verskeie seges in Mbombela

In die betrokke wedstryd waarna hy verwys, het die Arende ook die Ikeys aangepak. Die Arende was vir meerderheid van die wedstryd voor, maar die Ikeys het inhaalrugby gespeel om uiteindelik die titel te verower.

“Ek het twee great afrigters in verskillende jare gehad, en albei het my persoonlik geraak en laat groei in rugby en die liefde vir die sport ook. Die jaar het Coach Burger [Van der Westhuizen] ‘n ander benadering tot die seisoen gehad, en ons as ‘n span saamgehou en soos familie laat voel. Ek het veral die jaar geleer van believe. Dit was ons slagspreuk vir die jaar – glo in alles wat jy doen.”

Hy het die wengevoel as amazing beskryf en sê hy wens hy kan daardie oomblik weer oorhê en alles weer inneem.

“Dis ‘n droom wat ek gehad het vandat ek ‘n klein laaitie was en die Varsitybeker op TV gekyk het. Ek het altyd vir my pa gesê ek gaan daar speel, en hier sit ek vandag met ‘n beker en ‘n groep spelers wat ek vir die res van my lewe broers kan noem.”

‘n Week na sy broer, het Quinn se troepe Stellenbosch toe gevlieg om ook ná ‘n noue ontkoming met die Maties as eerstekeerwenners uit die stryd te tree.


“Dit is eintlik baie moeilik om te beskryf, dis soveel emosies in een oomblik. Al die harde werk – vroeë oggende en laat aande. Dis ‘n gevoel van verligtig en trots.” Quinn sê dat alles die moeite werd was die oomblik toe hulle die trofee omhoog gelig het.

Hy sê die wen het vir hom baie selfvertroue gegee, en dat dit hom een stappie nader gebring het aan sy volgende doelwit – om nes sy ouer broer vir die Arende se Varsitybekerspan uit te draf.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se goue Ashley doen dit weer!

Albei die Van Zyl-broers is dit eens dat al hulle rugbysukses te danke is aan die ondersteuningstelsel van familie hier by die huis. “Hulle het my vandat ek die eerste keer ‘n rugbybal in my hand vasgehou het, ondersteun. Van bulletjierugby tot nou,” het Chyle gesê.

Back to top button