Local news

Só lyk Mpumalanga se finaliste vir dorp van die jaar

Stem voor 28 April vir een van dié Mpumalanga-dorpe as deel van Kwêla se Dorp van die Jaar 2023.

Witrivier, Lydenburg of Delmas – dít is jou opsies vir die provinsie se dorp van die jaar.

Mpumalanga, die Oos-Kaap en Limpopo se finaliste is op 23 April in rondte 2 van Kwêla se Dorp van die Jaar bekendgemaak.

Op die program word daar verwys na Witrivier se eie lughawe (KMI Lughawe), wat die grootste aaneenlopende grasdakstruktuur in Afrika het.

Dan is daar oor talle galerye, kunsateljees en handwerkmarkte wat ’n platform vir topklaskunstenaars in die area skep. Die dorp se motormuseum, verskeidenheid winkels, brouerye en koffieplekke word ook genoem.

Lydenburg word beskryf as ’n dorp by die voet van die Longtompas, omring deur pragtige berge.

Voëlkykers en natuurliefhebbers sal dit glo daar geniet, aangesien daar ’n wye verskeidenheid spesies te sien is.

Dan is daar ook die Paardeplaats-waterval en -klipsirkels wat in die omgewing gesien kan word, terwyl trekkerpieknieks onder die gewilde aktiwiteite tel.

LEES OOK: Musiekteater uit die boonste rakke by Innibos

Delmas is die laaste nominasie in die provinsie. Volgens die bekendstellingsvideo het dié landboudorp in 1907 rondom die oorspronklike plaas, Witklip, ontstaan.

“Dis een van die suksesvolste landboustreke in Suid-Afrika met ten minste vier megaboere in die kontrei. Hier is ’n valskermklub, renbaan, visvangplekke asook ’n baie aktiewe rolbalklub en gholfbaan.”

Die gemeenskapsorganisasies Delmas Herleef en Delmas First is die afgelope twee jaar besig om die dorp skoon te maak en te verfraai, in samewerking met die munisipaliteit.

Stem vir jou gunsteling deur die dorp se naam voor 28 April na 33157 te stuur. Daar word 30 stemme per nommer toegelaat.

Back to top button