Local sport

Skitterende spel by 12de Danie Rossouw Rugbyweek

Sestig spanne het in die toernooi op Witrivier deelgeneem.

Die 12de Danie Rossouw Rugbyweek het van 25 tot 29 Maart plaasgevind.

Dit is een van die grootste rugbyweke in Suid-Afrika. Sestig spanne van 20 skole het deelgeneem.

Met die nuwe Astro-baan wat op Hoërskool Rob Ferreira gebou is, moes die skool inderhaas ‘n ander plan met die velde maak, aangesien daar 30 wedstryde per dag moes plaasvind. Die skool het hulle krieketovaal in ‘n nuwe B-rugbyveld omskep, en het ook gebruik gemaak van Witrivier Rugbyklub se veld.

Wedstryde is vanaf 09:00 tot 17:15 op die B-, C- en dorpsvelde gespeel. Die laaste wedstryd is om 21:00 op die A-veld beslis.

Na afloop van elke wedstryd was daar ‘n man van die wedstryd aangewys wat ‘n prys van BUCO en die Uxi Pumas ontvang het.

Dit was ‘n gesig om te aanskou toe al die spelers Saterdag om 19:20 op die A-veld aangetree het. Die Pumas se eie MJ Mentz, Motswako se Chris Weideman en dominee Jaco Putter het die seuns toegespreek.

Hierna het die hoofwedstryd tussen Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Wonderboom afgeskop. Dit is regstreeks deur SuperSport Schools uitgesaai. Die spel het met ‘n telling van 14-0 in Rob se guns geëindig.

Die Sondag het die spanne rustig verkeer. Sommige het die wildtuin besoek, ander het die inkopiesentrums in Mbombela gaan geniet en daar het self ‘n span of twee by Bosvark uitgesak om te braai en te swem. Verskeie spanne het die gasvryheid van die Laeveld geniet en het groot lof vir al die vriendelike inwoners gehad.

Maandag het die spanne weer mekaar die stryd aangesê. Een van die opwindendste wedstryde was toe Ligbron vir Menlopark die stryd aangesê het in die o. 15-afdeling, sowel as Rob se eerstes wat die verdedigende Virsekerbeker wenners, Midstream College, aangepak het. Menlo en

Midstream het albei hul onderskeie wedstryde gewen.

Terselfdertyd kon spanne se afrigters ook gebruik maak van die Uxi Pumas akademie wat vir afrigters beskikbaar was in samewerking met Motswako Office Solutions.

Die afrigting is op Dinsdag voortgesit, en verskeie spanne kon van die fasiliteit gebruik maak. Die ander spanne het verkies om eerder die Laeveld verder te gaan verken.

Op die laaste dag (Woensdag) was daar groot opskudding met uitstekende wedstryde. Die hoogtepunte het ingesluit: Rob takel Delmas, Bergvlam vir Birchleigh en Ligbron vir Midstream College. Rob het vir Delmas geklop, Bergvlam vir Birchleigh en Ligbron en Midstream het gelykop geëindig met ‘n telling van 28 elk.

Na die wedstryde is al die skole terug na hul tuistes met ‘n lang en harde rugbyweek agter die rug. Al die uitslae van die week sowel as ander inligting kan op www.danierossouwrugbyweek.co.za gevind word.

Die gasheerskool wil net graag weer al sy borge bedank wat die week moontlik gemaak het. Dit sluit in Twinz Pizza Witrivier, Ocean Basket Witrivier, ADT Fidelity, SuperSports Schools, Makro Nelspruit, Mpumalanga Sharp, Ingwenyama Resort, Motswako Office Solutions, Heidel Eiers Witrivier, Aqua da Namaacha, BUCO Witrivier, Debonairs Pizza en SPAR.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button