Local news

Bekende seekoei en eienaar ly dubbele verliese op plaas buite Hoedspruit

Jessica en Tonie het binne twee dae twee verliese gely - Tonie sy geliefde Shirley en Jessica haar eerste kalfie én haar mensema.

Jessica die seekoei is maklik een van die gewildste diere te wêreld, en nog meer, sy behoort aan die Laeveld!

Maar Jessica en haar eienaar, Tonie Joubert, ‘n ereveldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin, het in die kwessie van twee dae twee groot verliese gely.

Op 19 Maart moes Tonie afskeid neem van sy vrou, Shirley, wat in haar slaap gesterf het.

Tonie en Shirley het mekaar in 2003 ontmoet, en dit was juis te danke aan die geliefde Jessica dat hulle twee bymekaar uitgekom het.

LEES OOK: Pumas verras jong rugbyspeler wat teen lupus veg

Shirley was die ma-figuur wat Jessica nooit gehad het nie.

Dié seekoeikalf het tydens die groot vloede wat die streek in Februarie en Maart 2000 getref het, op Joubert se werf beland toe sy in die Olifantsrivier van haar ma af weggespoel is. Sedertdien versorg Tonie haar, en toe later Shirley ook.

Jessica, wat vanjaar 23 jaar oud is, het op 18 Maart geboorte geskenk aan haar heel eerste kalfie. Aanvanklik het die kalfie aan sy ma gedrink, maar na ‘n ruk opgehou en leweloos gebly lê. Dis toé dat Tonie en Shirley besluit het om die kalfie in hulle huis in te vat en dieselfde formulemelk waarmee hulle Jessica grootgemaak het, te gee. Na ‘n ruk het die kalf weer lewe gekry en selfs agter die egpaar in die huis begin aanloop.

LEES OOK: Pi-dag maak wiskunde vir Laeveld-leerders pret

Omdat die kalfie so goed aangesterk het, het die Jouberts hom terug na sy ma in die rivier geneem. Verdere tragedie het egter die oggend van 20 Maart getref toe Tonie die kleintjie dood by die rivier onderaan die huis aantref.

Jessica en Tonie het dus binne twee dae twee verliese gely, en het vir die afgelope paar dae nie enige toeriste verwelkom nie, maar sal vanaf vandag weer vir die publiek oop wees.

Op die Jessica the hippo-aanhanger-Facebook-blad, stroom die medelye vir Tonie en Jessica in.

 
Back to top button