Local news

Pumas verras jong rugbyspeler wat teen lupus veg

Keenan Minnie het 'n getekende rugbytrui ontvang en van die Curriebeker kampioene in lewende lywe ontmoet.

Die Danie Rossouw Rugbyweek het vanaf 25 Maart tot gister, 29 Maart, by die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier plaasgevind.

Bergsig Akademie van Rustenburg het saam met 17 ander spanne in hierdie toernooi meegeding.

Buiten dat daar baie rugby gespeel is, het Keenan Minnie van dié skool ‘n groot verassing ontvang.

Op die laaste dag van die week lange toernooi, het so ‘n paar van die Pumas in hul voertuie geklim en Witrivier toe gery, met die Curriebeker ook deel van die gevolg.

LEES OOK: House of half a million razed to the ground in KaMajika

Keenan is in sy gr. 9-jaar met lupus, ‘n outoïmmuunsiekte wat voorkom wanneer jou liggaam se immuunstelsel jou eie weefsels en organe aanval, gediagnoseer. Volgens sy huidige rugbyafrigter, Martin Pelser, het hy destyds baie siek geword en sy liggaam het in só mate opgeswel, dat hy naderhand nie skool toe kon gaan nie.
In September het Pelser vir Keenan genooi om saam met hulle te kom rugby oefen en vandag draf hy as voorryspeler vir sy skool se eerste span uit. “Hy is ‘n ongelooflike speler,” het Pelser gesê.

Die hoofafrigter van die Pumas, Jimmy Stonehouse, het van Keenan en sy rugbyreis te hore gekom en besluit om van die unie se kant af, iets terug te gee.

LEES OOK: Pumas nog steeds onoorwonne ná taai stryd teen Griekwas op tuisbodem

“Iemand het my op WhatsApp gekontak en vir my ‘n foto van dié seun gestuur en gesê hy soek vreeslik graag ‘n trui en wil die spelers ontmoet,” het Stonehouse gesê.

“Ek het besluit ek gaan ‘n trui laat teken en dit vir hom vat.”

Toe Stonehouse egter Dinsdag, 28 Maart by die toernooi was, waar hy genooi is om ‘n praatjie te lewer, was dit tevergeefs. “Ek het hom oor die interkom geroep, hy was nie beskikbaar nie, die span was nie daar nie en die afrigters was ook nie die aand by die funksie nie.”

Alhoewel Stonehouse en sy Pumas-span reeds Woensdag, 29 Maart, Bloemfontein toe gevlieg het vir hulle Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaatse Cheetahs, het hy van die oorblywende spelers opgekommandeer om Keenan te gaan soek, die beker saam te vat en die trui vir hom te gaan gee.

Dit is seker enige seun se droom om die Curriebeker te kan vashou, en Stonehouse en die Pumas het dit vir Keenan moontlik gemaak.

“Vir hom was dit amazing,” het Pelser laat hoor. “Hy was skoon hartseer van lekkerte toe hy saam met my terug in die kar klim.”

Back to top button