Local newsSport

Pumas nog steeds onoorwonne ná taai stryd teen Griekwas op tuisbodem

Die Airlink Pumas kom volgende teen nommer een op die punteleer, die Vrystaatse Cheetahs, te staan in hul tweede wegwedstryd van die seisoen.

Dit was Vrydag, 24 Maart, ‘n herhaling van verlede jaar se Curriebeker-finaal by Mbombela Stadion toe die verdedigende kampioene, die Airlink Pumas, kragte met die Windhoek Draught Griekwas in hul ronde 3-wedstryd gemeet het.

By verlede jaar se toernooi het dié twee spanne mekaar tydens twee van die uitklopwedstryde ontmoet. Die Pumas het in elk van hierdie kragmetings tweede viool gespeel, maar die bordjies is Vrydag in hul guns verhang.

Dit was geen geheim dat hierdie wedstyd ‘n taai stryd sou wees nie. Selfs die Pumas se hoofafrigter, Jimmy Stonehouse, het voor die aanvang gesê dit is keer op keer ‘n kompeterende 80 minute op die veld wanneer hierdie twee spanne mekaar ontmoet. En hy was glad nie verkeerd nie.

LEES OOK: Cogta MEC shocked by assassination of Chief Clyde Mnisi

Tydens die grootste gedeelte van die eerste helfte is daar met die bal rondgespeel; beide spanne was op die aanval en ook aktief in hul verdediging.

Drieë deur die Griekwas se slot, Derik Pretorius, en die Pumas-vleuel, Lundi Msenge, is opgeskort nadat die televisieskeidsregter dit ongeldig verklaar het. Die telbord het tot diep in die eerste helfte nog op nul elk gestaan.

Die tuisspan het hul staal gewys toe Etienne Taljaard oor die doellyn bollemakiesie slaan met die eerste drie van die aand. Tinus de Beer, wat terug in aksie is ná ‘n besering, het die ekstra twee punte bygevoeg om die verdedigende kampioene ‘n voorsprong van sewe punte te besorg.


Die Griekwas se losskakel het net voor die halfeindfluitjie gesorg dat sy span punte op die telbord kry toe hy ‘n strafskop sekuur oor die pale geskop het.

Dissipline was deurgaans ‘n probleem vir die Pumas, en die geel kaart is vroeg in die tweede helfte vir ‘n gevaarlike duikslag deur De Beer op die opponente se vleuel, Luther Obi, uitgehaal.

LEES OOK: Laerskool Laeveld proud of compassionate learners

Die afwesigheid van hul losskakel het die manne in pienk egter nie veel gepla nie, aangesien hulle steeds die skopskoen van Brandon Thompson gehad het, wat ‘n strafdoel vir die span aangeteken het, gevolg deur een deur De Beer ná sy 10 minute op die afkoelstoel.

Die einste Thompson het kort na sy strafdoel oor die doellyn geduik vir sy eie vyf punte, met De Beer wat twee bygevoeg het.

Sewe troospunte is vir die Griekwas aangeteken, danksy ‘n drie deur Carl Els en die skoppie deur Luba Balo Dobela, maar die besoekers se hoop om nog punte te maak was van korte duur toe De Beer met nóg ‘n strafskop slaag en André Fouché vir ‘n skitterende drie sorg.


“Die eerste 50 minute was maar moeilik,” het Stonehouse aan Laevelder gesê. “Hulle speel dieselfde tipe rugby as ons, hoërisikorugby.” Hy het bygevoeg dat daar so twee of drie geleenthede was toe sy span punte onder die pale kon aanteken, maar hul foute, soos onder andere vorentoe aangeë, is deur die TMO raakgesien. “Omdat ons hoërisikorugby speel en die bal rondgegooi word, het jy maar altyd die probleem dat foute mag insluip. Maar die laaste paar minute het ons definitief die oorhand gekry.”

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se atlete maak naam vir hulself in KwaZulu-Natal, Gauteng

Stonehouse sê dat daar nie veel fisiese verskille aan die span se spel en spelers is teenoor verlede jaar nie, maar dat hulle wel baie meer gemotiveerd is en aanhou veg tot die laaste sekonde.

“Die tuisvoordeel, natuurlik, het vir ons ‘n groot hupstoot gegee.”

Die Pumas het Vrydagaand na die volle 80 minute 28-13 oor die Griekwas geseëvier en speel môre, 31 Maart, teen die Vrystaatse Cheetahs in hul tweede wegwedstryd van die seisoen. Die Cheetahs beklee tans die eerste plek op die punteleer, met die Pumas kort op hul hakke.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button