Local news

Pi-dag maak wiskunde vir Laeveld-leerders pret

'n Volle dag word jaarliks, wêreldwyd, op verskeie maniere gevier, wat sorg dat wiskunde so 'n bietjie lekkerder en meer draaglik gemaak word.

Internasionale Pi-dag word jaarliks op 14 Maart gevier, en nee, dis nie ‘n dag toegewy aan die bros deeghappie nie, maar eerder die wiskundige konstante wat die verhouding van die omtrek van ‘n sirkel tot sy deursnee verteenwoordig.

Hoërskole Nelspruit, Bergvlam en Rob Ferreira het hierdie dag by die onderskeie skole gevier.

LEES OOK: Pumas nog steeds onoorwonne ná taai stryd teen Griekwas op tuisbodem

By die Nellies is daar oliebolle, wat natuurlik sirkelvormig is, met ‘n pi-teken op verkoop. Sommige van die leerders sowel as die wiskunde-onnies het almal hempies aangehad waarop baie van pi se desimale tot ‘n sekere punt in die rondte gerangskik is. Dié konstante het sowat 62,8 triljoen desimale, maar om dit te vereenvoudig gebruik ons die waarde 3,14.

NHS se leerders het ook tydens pouse met mekaar in ‘n aantal speletjies meegeding, onder andere om te kyk wie die meeste desimale kan opsê, wie met die meeste malvalekkers, wat ook sirkels is, in hul monde kan praat en wie die vinnigste spuitroom uit ‘n bakkie kan eet sonder om hul hande te gebruik.

LEES OOK: TRACN4 Elands Marathon Expo a first for road-running in Mpumalanga

Die Vlammies het Pi-dag nogal letterlik gevier deur pasteie en koeldrank by die skool te verkoop. Ook hulle het hemde ter viering van dié dag gedra.


In Witrivier by die Robbies is blikkieskos vir die skool se gemeenskapsprojek ingesamel. Pi-hempies blyk die mode te wees en net soos by die ander hoërskole, is sulke hempies ook hier gedra. Om weer eens te hou by die letterlike betekenis van pi, is pasteie aan die onderwysers uitgedeel.

Dit is vir seker dae soos dié wat dit ‘n tikkie lekkerder maak om wiskunde te doen.

Back to top button