Local news

Maart is die maand vir maatskaplike werk

Hierdie maand probeer maatskaplike werkers die publiek laat verstaan hoe veelsydig die beroep eintlik is. 'n Maatskaplike werker van Mbombela gesels met Laevelder.

Dis binnekort Wêreld Maatskaplike Werkdag, en die werkers in dié veelsydige beroep wil hierdie maand graag gebruik om die publiek meer oor hul roeping in te lig.

Marla Louw, Solidariteit Helpende Hand se streeks- maatskaplike werker vir Mpumalanga en KwaZulu-Natal-Noord, vertel meer oor wat hulle vir hierdie maand beplan en wat maatskaplike werk presies behels.

“Ons het gevind dat die publiek oor die algemeen ’n wanpersepsie oor die rol en werksaamhede van die maatskaplike werker het. Dus wil ons graag die gemeenskap bewus maak van die onmisbare rol van maatskaplike werkers in die Laeveld. Wêreld Maatskaplike Werkdag is op 21 Maart, maar ons vier dit die hele maand.”

Louw sê een van die grootste wanindrukke oor die beroep is dat maatskaplike werkers almal die mandaat het om kinders te verwyder.

“Hierdie wanopvatting veroorsaak dikwels ongemak en dat mense nie om hulp wil vra nie, omdat hulle bang is die kinders gaan weggeneem word. Die Kinderwet 38 van 2005, hoofstuk 19 (1), verwys spesifiek na die omstandighede waarin ’n kind hom- of haarself moet bevind voor hulle in ’n plek van veiligheid geplaas sal word.”

LEES OOK: Krokodilbyt naby Barberton skrik man nie van viswaters af nie

’n Maatskaplike werker reik nié die bevel om kinders uit ouerlike sorg te verwyder uit nie. Só ’n bevel mag slegs deur ’n landdros van die kinderhof uitgereik word, en daar word eers deeglik ondersoek na die ouers se omstandighede ingestel.

Louw sê die tweede ding wat hulle opgelet het, is dat die publiek onseker is oor wat presies maatskaplike werkers daagliks in hul verskeie hoedanighede doen. “Daarom het ons dit goedgedink om een maal per week in Maart ’n stukkie uit die dagboek van ’n maatskaplike werker te plaas, om die gemeenskap ’n groter prentjie van hul werksaamhede te gee.”

LEES OOK: Voelgoedfoto van plaaslike inwoner pronk op muur in i’langa Mall

Daar is verskillende velde in maatskaplike werk:
• Statutêre maatskaplike werk
• Maatskaplike werk in skole
• Maatskaplike werk in hospitale
• Maatskaplike werk in geestesgesondheid
• Bedryfs- maatskaplike werk
• Forensiese maatskaplike werk
• Maatskaplike werk in korrektiewe dienste
• Maatskaplike werk in gemeenskapsontwikkeling
• Maatskaplike werk by kinder- en jeugsorgsentrums
• Maatskaplike werk in tehuise vir ouer persone
• Maatskaplike werk in rehabilitasiesentrums
• Maatskaplike werk by aannemings
• Maatskaplike werk in gesinsadvokate se kantore
• Kliniese maatskaplike werk
• Maatskaplike werk in die privaat praktyk

Louw se idee is om vandeesmaand ‘n bietjie uit te brei oor van dié verskillende velde.

Indien jy ’n skenking wil maak of navrae het oor Helpende Hand, kontak die Mpumalanga/KwaZulu-Natal-Noord streeksorganiseerder, Annemarie van Heerden, by 082 829 2546, of die Laeveld-takvoorsitter, Elize Visser, by 079 485 7779.

Vir enige maatskaplike navrae, kontak Louw by 084 913 0349.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button