Local news

Kluisgeld aan flarde ná oormaat plofstof by motorhawe buite Mbombela

Vyf rowers het die hoeveelheid plofstof vir die ingooi-kluis in die Shell Gateway-winkel heeltemal oorskat.

‘n Bende wat in die vroeë oggendure van Woensdag 1 Maart by die Shell Gateway-motorhawe by die bekende Hall’s Padstal toegeslaan het en ‘n kluis met plofstof opgeblaas het, het hoogs waarskynlik met leë hande van die toneel af gevlug.

Die bom wat hulle gebruik het in ‘n poging om die motorhawe se ingooi-kluis mee oop te blaas, was heeltemal te groot, met die gevolg dat hulle die hele kluis aan flarde geskiet het.

Duisende stukkies versnipperde note wat regoor die toneel rondgefladder het, was met die polisie se aankoms op die toneel die stille getuienis van die kragtige ontploffing.

Volgens die polisie het die bende van vyf gemaskerde en gewapende bomplanters die winkel by die motorhawe kort na 02:00 binnegestorm.

Minstens een was met ‘n 12-boorhaelgeweer gewapen, terwyl die ander 9 mm-pistole gehad het.

LEES OOK: Krokodil slaan toe op hengelaars in Barberton

Die bom was so kragtig dat die hele kluis weggeskiet is. Net die basis, wat met boute aan die vloer geheg is, het oorgebly.

Omdat daar soveel skade aan die kluis is, kan daar glo nie met sekerheid gesê word of die rowers die plofstof teen die kluis geheg het of dit deur die pyp ingegooi het nie.

Wat vreemd is van die aanval, is dat die OTM nie soos in die meeste bomontploffings enigsins deur die rowers geteiken is nie.

LEES OOK: Nuwe hommeltuig vir Ehlanzeni Polisieduikeenheid

Dit laat die vermoede ontstaan dat daar glo binne-inligting aan die bende verskaf kon gewees het oor die hoeveelheid kontant wat in die kluis was. Dit is die mening van ‘n polisieman wat nou by die ondersoek betrokke is, en wat verkies om anoniem te bly.

Die vyf verdagtes het na die ontploffing om die gebou na die agterkant gehardloop waar die wegkommotor vermoedelik vir hulle gewag het.

Die voertuig het in die rigting van Mataffin weggejaag.

Volgens Christelle Burger, die motorhawe se woordvoerder, is die hele binnekant van die winkel in die ontploffing vernietig.

Burger kon nie sê wat die koste van die skade beloop nie.

LEES OOK: Familie onthou Mbombela se slaghuislegende, Rassie Strydom

Brig. Selvy Mohlala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy sê die personeel aan diens het gehoor hoe iemand die winkel se voordeur probeer oopskop. Die gewapende rowers het die winkel binnegestorm en die personeel gedwing om op die grond te lê.

“Op ‘n stadium het hulle skote hoor klap en ‘n rukkie later ‘n ontploffing. Toe dit stil raak, het hulle gesien die rowers het gevlug. Hulle het weer skote in die verte gehoor.”

Niemand is in die voorval beseer nie.

Die ondersoek word skynbaar bemoeilik omdat die aanvallers nie net balaklawas aangehad het nie, maar ook handskoene.

Back to top button