Local news

Bergland-leerders en -personeel neem afskeid van geliefde skoolhoof

Gordon Lancaster, vir 21 jaar lank die hoof by Laerskool Bergland, staan op aftrede. Só sal leerders en onderwysers hom onthou.

In ‘n hartroerende erewag byna simbolies van die 21 jaar se pad wat Gordon Lancaster saam met Laerskool Bergland gestap het, het die skool op 29 November van hom afskeid geneem.

Lancaster was sedert Julie 2001 Bergland se skoolhoof.

Voor hy egter in Mbombela beland het, was twee ander skole deel van sy loopbaan. Hy is 1982 as onderwyser by Laerskool Oosdriefontein aangestel, toe as departementshoof by Laerskool Sabie in 1991, waar hy ook in 1995 as hoof waargeneem het en die volgende jaar as hoof aangestel is.

LEES OOK: Conrad to get his eSight glasses soon

Die bewondering wat beide die kinders en onderwysers vir Lancaster het was duidelik sigbaar in die een ná die ander drukkies wat hy ontvang het toe hy deur die erewag op die rugbyveld beweeg het. Ook in die leerders se woorde het die respek en liefde wat hulle vir hulle meneer het, deurgeslaan.

Die hoofleiers vanaf 2017 tot 2022 het elk toesprake gelewer. Wilmien van der Merwe, 2017 se hoofdogter, sê sy kan die viering van Lancaster se 60ste verjaardag soos gister onthou. “Ons het dit op hierdie einste veld met ‘n Beetle-rit en Beatles-musiek gevier. Dankie vir 21 jaar se diens aan ons kinders, die Bergland-gemeenskap en ook die groter Nelspruit. U invloed strek veel wyer as net hierdie velde.”

Liam Pringle, die 2020-hoofseun, sê sy “mnr. L” het hulle geleer om hul fondasies op rots te bou. “Dankie dat u ons die waarde van vasbyt en deurdruk geleer het – u is vir ons leerders die vrugbare grond op die rots.”

Die huidige hoofdogter, Lara Jacobs, sê Lancaster was vir 21 jaar die fondasie van die skool. “Hy het die skool en gemeenskap onselfsugtig gedien en almal wat met hom te doen gehad het, kan getuig dat hulle beter daaraan toe was ná hul ervaring met mnr. Lancaster.”

Lancaster sê een van die waardevolste lesse wat hy gedurende sy tyd by Bergland geleer het, is dat mense ‘n leier meer nodig het as ‘n bestuurder.

“‘n Leier wat vertrou word omdat hy opreg is en werklik ander mense se belange eerste stel, bereik baie meer as wat hy hom in sy wildste drome kon voorstel.”

Om een spesiale oomblik uit 21 jaar te kan uitlig, is natuurlik vir hom byna onmoontlik. “Dit is baie moeilik, maar ek dink die tydperk wat ek op studiereise oorsee kon gaan en daar meer oor finesse in die onderwys kon leer, en dit hier kon toepas, staan as ‘n hoogtepunt uit.

“Die vestiging van die musieksentrum, die mediasentrum en wetenskaplaboratorium met die instelling van robotika tel beslis ook as hoogtepunte.”

LEES OOK: Local is lekker with Innibos and the Ultimate Kasi Experience

Vir die leerders en onderwysers wat agterbly, asook die persoon wat by hom gaan oorneem, het hy slegs een boodskap: “Ek het probeer om die goue reël van die lewe na te volg en my gebed is dat dit steeds sal geld: ‘Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.’

“Ek was geseënd met die beste beheerliggame en onderwysers vir wie enige hoof kon vra; mense wat my ondersteun het om my visie uit te leef.”

Hy het sy dankbaarheid teenoor die ongelooflike mense wat hom gehelp het om op rots te bou, uitgespreek.

Krige Slabber, 2019 se hoofseun, sê alhoewel Lancaster se tyd by die skool tot ‘n einde gekom het, “is ek seker meneer is nog steeds meer as welkom om elke middag met meneer se honde om die skool te kom stap.”

Dit sluit aan by Willem Blom, 2017 se hoofseun, se laaste woorde aan sy laerskoolhoof: “En Meneer… eenkeer ‘n Bergie, altyd ‘n Bergie!”

Hoe mnr. Lancaster se onderwysers hom sal onthou:

Bergland se beheerliggaamvoorsitter, Bennie Pringle, sê dit is ‘n reuse-uitdaging om hulde te bring aan ‘n man wat duisende lewens deur sy loopbaan geraak het, maar hy het besluit om hom deur die oë van sy kollegas, “die mense wat saam met hom werk en gesien het hoe funksioneer ‘n mens in die beste en slegste van tye”, te sien.

 

“Ek vra toe vir mnr. Lancaster se personeel om hom in een word te beskryf. Hoor wat sê hulle:

“‘Wysheid, barmhartigheid, integriteit, geduldig, omgeemens, toegewyd, voortreflik, inspirasie, hardwerkend, consistent, beheersd, verantwoordelik, kragdadig, hoofmateriaal.'”

Hy sê hulle sal hom onthou vir:
• Sy puik menseverhoudinge, bereidwilligheid om te help as daar ‘n probleem is, sy deursettingsvermoë en geloof.
• Die feit dat dit hoofsaaklik oor die kinders gegaan het.• Sy humorsin. Mnr. Theo vertel dat hy en mnr. Lancaster ‘n opleidingsessie bygewoon het waar daar aan hulle gesê is: “As jy gestres is, sal dit jou balans affekteer,” waarop mnr. Lancaster opgemerk het: “Ek dag nog altyd dis die wyn wat my balans affekteer…!”

Mnr. Lancaster vertel dat hy eendag ‘n seuntjie by die kantoor gekry het wat laat vir skool was. Die mannetjie se klere sit skeef, die skoenveters is los en die hare staan in alle rigtings. Die mannetjie besef hy beter vinnig vir die oppergesag verduidelik wat aangaan en trek weg oor hoe alles verkeerd geloop het die betrokke oggend, hoe hy en sy pa vasgesit het, en om alles te kroon, sê hy: ‘En toe het die hond nog wraggies op my tas gepis ook!’

• Hy sal onthou word daarvoor dat hy ‘n oop deur gehad het, gereed met ‘n warm glimlag of ‘n sneesdoekie.
• Sy vermoë om met onverdeelde aandag na jou te luister, dat dit vir jou gevoel het of jy die enigste mens op aarde was.
• Hy het ‘n hart vir kwesbare gesinne en kinders. Daar kan ‘n hoofstuk geskryf word oor die werk wat hy agter die skerms in dié verband gedoen het.
• Die manier waarop hy stap, oor sy bril loer en nie verby ‘n papier op die grond stap sonder om dit op te tel nie.
• Hoe hy met geesvange heel voor saam met die kinders gestaan en dans het.

LEES OOK: Reik uit wanneer jy nood sien, sê oud Mbombela-polisieman

Pringle sê hulle weet van Lancaster die volgende:
• Hy hou van soesji en carpaccio en sjokolade en rooiwyn, waarna hy verwys as “rus en vrede”.
• Hy lees graag en gaan kyk voëls in die wildtuin, wat saam met Namibië sy gunstelingplekke is.
• Hy luister Adele, Spoegwolf en Imagine Dragons.

“Mnr. Lancaster, ons gun jou ‘n glas Meerlust Rubicon langs die Etosha-panne terwyl ‘n rooiborslaksman vlak voor jou ‘n rysmier jag en Spoegwolf in die agtergrond sing dat ons vanaand moet vergeet dat ons almal doodgaan, en ons intussen langs mekaar moet lewe.

“Ek groet met die gevleuelde woorde van Jan F.E. Celliers in ‘n gedig wat hy oor genl. De Wet geskryf het, maar net so wel vir mnr. Lancaster kon wees:

Stil broers, daar gaan ‘n man verby,
Hy groet,
En dis verlaas,
Daar’s nog maar een soos hy,
Bekyk hom goed
.”

Back to top button