Local news

Werkswinkels oor Kerstyd in Mbombela aangebied

Innibos en Nitali Re-Invented Decor help jou binnekort om kersgeskenke en -vaardighede reg te kry vir die Kersgety.

Kom vier die aanvang van die Kerstydperk met ‘n kreatiewe wegspring saam met Innibos en Nitali Re-Invented Decor vanaf Woensdag 30 November tot Saterdag 3 Desember.

Die Kersmark word by Nitali in Silvastraat 8, Mbombela, gehou, en is op die weeksdae oop vanaf 08:00 tot 19:00, en 08:00 tot 14:00 die Saterdag.

Buiten Kersgeskenke vir oud en jonk, is daar daagliks verskeie werkswinkels waar jy jou eie geskenke kan leer maak, of sommer net ‘n interessante en nuwe vaardigheid onder die knie kry. Sit so twee uur opsy vir elke werkswinkel.

LEES OOK: Reik uit wanneer jy nood sien, sê oud Mbombela-polisieman

Van hulle sluit in hout-Kersversierings met Thjoko-verf, ‘n leergebonde joernaal, polimeerkleiwerk, die maak van klei (lugdroog in plaas van bak) -plantbakke en skulpdekor. Die meeste van die werkswinkels sal ook deur die jongspan aangepak kan word.

Voorts gaan die spotprentkunstenaar Wouter de Witt, oftewel Ghost, klasse aanbied en jou leer hoe om jou stokmannetjie na ‘n behoorlike spotprent te laat lyk.

Die fooie vir elke werkswinkel wissel (en sluit materiaal in). Vir meer inligting en ‘n volledige lys daarvan asook om daarvoor te bespreek, skakel Annelie by 082 958 3614.

Back to top button