Local news

Akrobate verskaf genot aan toeskouers in kleurvolle konsert by Communio Kerk

Hierdie jong akrobate tussen die ouderdomme van drie en 16 het onlangs hul jaareindkonsert in Mbombela gehou.

Jong akrobate en dansers het in Oktober in kleur en fleur hul jaarlikse konsert by die Communio Kerk opgevoer.

Wees Lig Akrobaat en Dans het “Colour me happy” as tema gekies.

Aanvanklik, sê die akrobatiekjuffrou, Clara Potgieter, het hulle gedink enige dans op ‘n “gelukkige of kleurvolle” liedjie kan werk, maar “God se hand was so in dit; die tema van kleurvolheid het so mooi bymekaargekom.” In hul openingsvideo is al die kleure wat met die Skepping bymekaargekom het, uitgebeeld.

> Foto’s: Elma Photography

Potgieter sê hierdie konsert is die een keer in die jaar wat die dogters die opvoering net kan geniet en nie hoef te bekommer oor die beoordelaars nie.

LEES OOK: IN FOTO’S: Papsopnat pret by Bergland

“Ek sê altyd vir hulle, ‘Wys vir jou mamma dat dit vir jou lekker is,’ so die konsert wás lekker.

“Voor hulle op die verhoog moet gaan, draai hul magies, en wanneer hulle afkom, sê hulle, ‘Juffrou, ek wil weer!'”

Die jongste klein akrobate is maar drie jaar oud en die oudstes is 16. Dít het vir die gehoor van 320 mense meer as genoeg verskeidenheid gegee om te geniet.

“Akrobatiek is nie maklik nie, dit verg harde werk, uithou- én deursettingsvermoë,” sê Potgieter.

LEES OOK: Swaaiende sterte steel harte by Longtom Plaasfees

Sy en Maryke du Toit, die dansjuffrou, het saam die konsert op die planke gebring.

“Ons dink dit was ‘n mooi aand en dat elke deelnemer dit geniet het. Soos die kollig op die dansers geskyn het, het God se lig ook op ons gehoor geskyn.”

Back to top button