Local newsNews

Dinamiese Leandie du Randt sprankel op Lydenburg

’n Sprokiesmooi bloeiseloggend begroet Lydenburg se dames net betyds om van die wintervaalheid te begin vergeet.

Die bekende akteur en motiveringspreker, Leandie du Randt, het 280 gaste amper tegelykertyd laat lag en die trane laat wegpink met haar sprankelende, dinamiese styl.

Sy was Saterdag 13 Augustus die gasspreker tydens ‘n damesoggend by Hoërskool Lydenburg, wat as deel van Vrouemaand gedien het. Dié predikantsdogter het haar lewenspassie met die vroue gedeel sodat almal kon voel hulle drome is bereikbaar.

Die hooforganiseerders, Valma Strydom en Lavon van Niekerk (AGS Rehobot-gemeente), het besluit om kort voor Lentedag Lydenburg in skakerings van pienk op te tooi. Die tema van die oggend was “50 Shades of Pink”.

Leandie du Randt.

Die skoolverhoog is in ‘n lentebloeiselagtergrond van 10 m breed en 4 m hoog omskep.
Alles het van goeie smaak getuig, van die pragtige verwelkomingsdrankies met sjampanje en spookasem, tot tafels wat oortrek was met geskenke en bederfies.
Party tafels het self hoede en reuseteepotte op gehad waaruit blomme soos ‘n waterval gevloei het. Dis ‘n dag waaroor daar nog baie lank gepraat gaan word.
Behalwe Du Randt se inspirasiepraatjie het die Hairy Fairy Salon ‘n jong dame bederf en ‘n nuwe haarstyl, uitrusting en grimering vir die dag gegee. Jeania van Wyk (21) is deur AGS Rehobot vir die mooimaaksessie genomineer.

 

Sy het reeds Vrydag 12 Augustus by Monique Smit, die eienaar van Hairy Fairy Salon, vir die eerste deel van die haarkleursessie aangemeld, aangesien die proses ‘n lang storie is. Brandon Walt, Monique Smit en Jay-Dee Smit het Saterdag haar hare en grimering voltooi.
Walt en Smit het ook Du Randt se hare en grimering vir haar verhoogsessie behartig.

Dit was vir die gehoor ‘n groot verrassing toe die pragtige natuurlike blonde Van Wyk met ‘n grys-en-swart gelaagde voorkoms en ‘n swart satynnommertjie op die verhoog
verskyn het. Sy het pittig op die verhoog gespot: “Dankie julle! Lyk ek nie soos ‘n Barbie nie?” Haar pragtige persoonlikheid was duidelik sigbaar.
Die 30 dames wat as gasvroue vir die tafels opgetree het en geen moeite ontsien het nie, word hartlik deur die organiseerders bedank.

Heidi Betz (Mrs Universe South Africa 2022 se eerste prinses) demonstreer grimeertegnieke op Carmen Nieuwenhuizen vir die gehoor.

Die tafeltemas en fynere besonderhede was sprokiesmooi. Spesiale demonstrasies is deur Kaylee Lindeque, Moné Lake, Heidi Betz (motiveringspreker en grimeerkunstenaar), Hairy Fairy Salon en Linelle Venter-Watermeyer gelewer.
Betz, Mrs Universe South Africa 2022 se eerste prinses, het behalwe ‘n grimeerdemonstrasie ook oor haar verhouding met die Here gepraat en ‘n positiewe boodskap gedeel.

Die erkende borge vir die dag, asook haar- en skoonheidsalonne wat pryse geborg het, was: Amajaybee, Benice Claasen, Café Crust, Catya, Cherri Blossom Lifestyle, CM Lazer Creations, De Ark Gastehuis, Duet Spa, Hairy Fairy Salon, Herbal Life, Houtgeskenkies, Hoërskool Lydenburg, Joubert Apteek, Kapsel Haarsalon, Joubert Apteek, Klein Bederfies, M&E Beautique, Mount High Country Estate, Tupperware, Steelburger/Lydenburg Nuus, The Stable at Critchley, Heather Aspeling, Melanie de Beer, Luricke Janse van Rensburg, Moné Lake, Electronic Muscle and Slimming Bed, Refair l’ Art, West Audio en Zizwe.

Geniet die gallery met die oggend se foto’s:

Back to top button