Local newsNewsNews

M-Care toe vir Hoërskool Nelspruit se Johvan ná ongeluk

Dit gaan week na week beter met NHS-leerder, Johvan de Lange, ná sy ongeluk op 21 Julie in Mbombela.

Dit gaan steeds net beter met Johvan de Lange nadat hy in ‘n bromponieongeluk was.

Die ongeluk op 21 Julie het dié NHS-leerder vir ‘n tyd lank in ‘n koma gelaat, maar nou gaan dit elke week beter met hom. Sy pa, Hennie, sê hoe dankbaar hulle vir die ondersteuning is wat sy vriende en die gemeenskap hulle steeds gee, en hy sê veral dankie vir al die gebede.

Hennie sê sy seun het verlede week vir die eerste keer vaste kos geëet, en van hierdie week af eet hy self, al gaan dit sukkel-sukkel. “Hy herken darem al sy maatjies en die familie. Hy groet darem so nou en dan met die hand – dis as hy onthou – en hy het nou die dag ook sy kepsie wat ek op sy kop gesit het, afgehaal om ‘n oom te groet. Dit is alles vir ons wow-dinge om te sien.

“Die afgelope week het daar nogal baie met Johvannie gebeur,” sê sy pa. “Hy beweeg sy hande en sy arms so ‘n bietjie, tel sy linkerbeen op en beweeg dit ook so ‘n klein bietjie op en af. Die regterbeen is nog seer en hy sukkel met hom. Hy sit ook al bietjie regop, wat baie help.

“Hy is glad nie meer aan masjiene gekoppel nie, behalwe die een wat die een been dreineer om die wond skoon te hou.” Volgens sy pa is hy maar nog baie swak en word hy gou moeg, maar hy is oor die algemeen positief. “Toe ons vanoggend by hom kom, sit hy in die gang by die susters se werkstasie. Hulle het gesê hy was so ‘n bietjie moeg gelê, en toe kuier hy daar by hulle terwyl hulle verslae skryf en werk.

LEES OOK: NHS-leerder stabiel ná ernstige ongeluk

“Hulle het my en my vrou nou sommer die byname ‘Skoonpa’ en ‘Skoonma’ gegee, want hulle sê hulle gaan hom vir hulle vat. Hulle is net nog nie seker wie hom gaan kry nie – hulle stry nog,” lag Hennie. “So hy maak maats daar waar hy gaan, maak nie saak of dit by die skool of in die hospitaal is nie.”

Hennie sê Johvan se hele linkerbeen is Dinsdag in gips geplaas om die ligamente op die knie te beskerm. Die regterbeen kry dan onder die knie gips om ook daar beskerming te gee. Hy is Dinsdag permanent na M-Care oorgeplaas waar sy rehabilitasie sal voortgaan. Sy pa sê hulle is dusver baie beïndruk met sy vordering.

“Dankie weer eens vir almal se gebede en dat hulle vir Johvannie kom kuier het en vir my en Welna en al ons familie en almal dra. “Hierdie is eintlik ‘n wonderwerk as ons kyk waar Johvan vandaan kom. Dit is nou Vrydag vier weke vandat hy in die koma in gegaan het en hy is regtig op so ‘n goeie plek, jy kan dit nie glo nie.

LEES OOK: Hugo Greyling se lewe by Nelspruit Rugbyklub gevier

“Ek dink hy is ver van 100% reg af, maar as jy vat waar hy was, van geen reaksie, tot waar hy vandag is – ons kan dit nie glo nie en ons is so dankbaar daaroor.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button