Local newsNewsNews

NHS-leerder stabiel ná ernstige ongeluk

Sy ouers moenie haastig wees nie, sê die dokters. Daar lê nog 'n lang herstelpad vir Johvan de Lange voor ná sy ongeluk.

Daar lê ‘n lang pad na herstel vir Johvan de Lange, ‘n matriekleerder van Hoërskool Nelspruit, voor, ná hy op 21 Julie op sy bromponie in ‘n ongeluk was.

Johvan se pa, Hennie, sê daar is al positiewe tekens sedert die vorige keer wat hy met Laevelder gepraat het. “Sy ogies is al oop en hy volg ons,” sê Hennie, maar hy sê met dié dat sy seun mense kan herken, kan hy sien dat Johvan ook baie emosioneel is. “Jy kan sien hoe trane oor sy wange loop wanneeer hy iemand sien wat hy herken.”

Hy het Maandag ‘n operasie ondergaan om twee van die bene in sy regterbeen te heg, en mag dalk later in die week nog ‘n operasie hê om sy sleutelbeen te herstel. Mediese personeel sal sy toestand monitor voor daar besluit word of hy stabiel genoeg is om die operasie te ondergaan.

LEES OOK: Innibos Teaterweek skop eersdaags af

Hennie sê daar is nou ook ‘n neurofisioterapeut wat met Johvan werk. Hy verduidelik dat die vetembolisme in Johvan se brein veroorsaak het dat daar klein beroertetjies was wat skade daaraan berokken het; dis waarna die fisio nou omsien.

Hy sê dit is moeilik om op hierdie stadium ‘n spertyd vir Johvan se herstel te gee. “Die dokter sê ons moenie haastig wees nie. Ons moet baie rustig wees; dit was ‘n groot besering.” Dit kan nog tot twee of drie maande wees voor hulle kan verwag om ‘n beduidende verskil te sien.

Maar Hennie is vol hoop en dankbaar vir elkeen wat hulle in hierdie tyd bystaan. “Daar is baie groter dinge as ons mense wat hieraan werk.”

Hy sê dit is waarlik ‘n toets, en nie een wat hy vir enigiemand toewens nie. “’n Ou se kinders is jou kinders. Hulle is al wat jy het. Jy sal alles gee dat hulle net weer gesond word.”

LEES OOK: Só lyk nuwe Laerskool Nelspruit-hoof se planne

Hennie sê ook dat dit nie net hulle is wat swaarkry nie, maar ook Johvan se maats by die skool en nog vele meer.

“Nelspruit is ‘n plek waar almal se kinders almal se kinders is. Dit is ongelooflik hoeveel mense na vore kom. “’n Vrou het my uit die bloute gebel toe dit net gebeur het en gevra of ek Johvan se pa is. Sy en twee seuntjies het by die hospitaal opgedaag en het ‘n sakkie vir Johvannie gegee. Hulle ken my seun glad nie. Dis, om die Engels te gebruik, heart-warming om te sien.”

Hennie sê hy is nie ‘n ou vir in die nuus wees nie, maar vir elke persoon wat van hulle Johvannie lees, is daar nóg ‘n persoon wat vir hom kan bid, en daarvoor is hy dankbaar.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button