Local news

Só lyk nuwe Laerskool Nelspruit-hoof se planne

Laerskool Nelspruit se nuwe hoof sê niks by die skool is gebreek nie. Saam met die ouers, onderwysers en beheerliggaam, wil hy behou en bou, soos die skool leuse sê.

Sy van het dalk al ‘n paar mense geïntimideer, maar Laerskool Nelspruit se nuwe hoof is ontvanklik, vriendelik en, selfs belangriker, word opgewasse geag vir die taak.

Mnr. Jaco Hauptfleisch het op 25 Julie amptelik in die hoof se skoene by Laerskool Nelspruit geklim.

Hy het in die Oos-Rand grootgeword en in 2000 sy matriekjaar aan Hoërskool Dr EG Jansen voltooi. Sy studies het hy aan die Normaalkollege Pretoria en die Universiteit van Pretoria voltooi.

As jong onderwyser het hy in 2005 by Laerskool Magalieskruin begin, waar hy natuurwetenskap en wiskunde gegee het. Daarna was hy die sporthoof en ‘n wiskundeonderwyser by Laerskool Menlopark vanaf 2008, ‘n departementshoof by Laerskool Voorpos in 2014, en voor sy aankoms in die Laeveld was hy akademiese adjunkhoof by Laerskool Wonderboom vanaf 2015.

LEES OOK: Prayers stream in for Hoërskool Nelspruit learner in ICU after scooter accident

Noudat hy in Mbombela aangeland het, vertel hy meer oor sy benadering as opvoeder en wat hom na dié stad, en meer spesifiek Laerskool Nelspruit, gelok het.

“Daar is baie min skole met ‘n ryke tradisie wat reeds oor 107 jaar strek, gelykstaande aan dié van Laerskool Nelspruit. Dit wat die Nellies reeds bereik het om ons as een van die toonaangewende laerskole, nie net in Nelspruit nie, maar die hele Laeveld, te vestig, asook die groot hoeveelheid onontginde potensiaal en geleenthede by die skool, was die trekpleister.”

Sover dit die ouers en onderwysers se verwagtinge betref, sê hy hulle het van die begin af vir mekaar gesê: “Niks by Laerskool Nelspruit is ‘gebreek’ nie. Ek wil werklik ‘behou en bou’,” soos die skool se leuse lui.

“Aangesien ek uit ‘n akademiese agtergrond kom, lê die ontwikkeling en vooruitgang van die kernbesigheid van ‘n skool my na aan die hart. Ons beweeg in die vierde industriële revolusie en ons berei leerders voor om binne vyf tot 15 jaar die beroepswêreld te betree.

LEES OOK: Laeveld-kunstenaar stel nuwe boek bekend

“Die inspanning van tegnologie en ontdekkingsleer sal verseker by die Nellies gebruik word om ‘n moderne onderrigmodel vir vooruitgang by ons leerders te skep en om te verseker dat kinders se kreatiwiteit nie beperk word nie.”

Die eienskap in ‘n hoof wat hy die belangrikste ag is om ‘n mensemens te wees.

“Skole word al meer as ondernemings gesien en bestuur. Dit mag moontlik waar wees, maar in so ‘n geval is ons gelukkig dat ons produk en ons kliënte mense is. Van die klein driejarige wat hartseer by ons kleuterskool die eerste keer van mamma moet afskeid neem, tot by die gr. 7-seun en -dogter wat die grondslag, kennis en vaardighede wat Nellies gevestig het, eendag as hoërskoolleerder en in die volwasse wêreld rekenskap van moet gee – dít moet vir ‘n hoof net so kosbaar as vir hul ouers wees, want sonder die kinders is ‘n skool net ‘n leë gebou.”

Dit behoort ouers verder gerus te stel dat hy self ook die pappa van twee “woelwaterseuns” is, soos hy hulle beskryf.

“Soos enige ouer vertrou ek hulle daagliks aan ‘n onderwyser toe. Maar my rol as ouer eindig nie daar nie. Liefde, omgee, gesels en speel in vandag se korporatiefgedrewe wêreld veroorsaak ‘n skeiding tussen ouers en leerders.”

LEES OOK: Tou opgooi is nie ‘n opsie vir dié Laeveldse inwoner nie

Dit het hy ook tydens sy verwelkomingstoespraak aangeraak.

“Soos ek in my toespraak versoek het, moet ouers met hulle kinders tuis balspeel, lees, gesels en dissipline toepas om die skool se hande te sterk asook die leerders se funksionering te bevorder.”

As nuwe Laeveld-inwoner minus sy hoofhoedjie, sien hy uit na alles wat die streek, die mense en die omgewing bied.

“Ek hou van jag, visvang, die mooi dele van ons land sien, en dan gehaltetyd saam met my vrou en kinders.”

Back to top button